Nuus 08:00
BULLETIN 7 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika sak terug op die wêreldranglys vir ekonomiese vryheid
# Minister Pule vra amptenare om aanspreeklikheid en dienslewering te versterk
# En, die Wêreldgesondheidsorganisasie sê Rusland moet eerlik wees oor ‘n laboratoriumwerker se dood aan builepes
# Suid-Afrika het tot in die 87ste plek uit 165 lande teruggesak in die 2026-jaarverslag oor Ekonomiese Vryheid van die Wêreld. Dit volg terwyl inflasiedruk en ‘n verswakkende geldeenheid breër ekonomiese uitdagings vererger. Die Vryemark-stigting en die Kanadese Fraser-instituut het vyf areas gemeet: die grootte van die regering; regstelsel en eiendomsregte; betroubare geld; vryheid om internasionaal handel te dryf; en regulering. Met ʼn telling van 6,63 uit tien het die verslag talle belangrike strukturele swakhede blootgelê wat Suid-Afrika terughou. Dit sluit in buitensporige algemene regeringsbesteding en oormatige regulering, veral wat die arbeidsmark betref.
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, het senior amptenare gevra om met integriteit, aanspreeklikheid en deernis te lei, en swak prestasie regverdig en konsekwent aan te spreek. Sy het die vergadering van die uitgebreide bestuurskomitee vir die ministeriële transformasieplan in Pretoria toegespreek. Die transformasieplan bepaal ‘n gemeenskaplike rigting vir die departement se vernuwing, versterk bestuur en omskep transformasieprioriteite in praktiese optrede. Pule het leiers aangemoedig om daagliks na uitnemendheid te streef deur duidelike verantwoordelikhede, bekwame amptenare, gedeelde standaarde, meetbare uitkomste en voortgesette verbetering.
# Gauteng se Departement van Menslike Nedersettings sê die komende plaaslikeregeringsverkiesing gaan hom nie keer om uitsettingsbevele toe te pas teen mense wat HOP-huise of grond beset nie. Die departement is tans besig met ʼn uitsettingsproses teen onwettige besetters wat grond en twee geboue in Soshanguve Uitbreiding 19, asook projekte by Soshanguve BB, GG en FF ingeneem het. Die departement se woordvoerder, Terry-Ann Van Eck, sê onwettige besetting ondermyn die regte van wettige inwoners en vertraag die lewering van behuising:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Rusland gemaan om volledige en deursigtige inligting te verskaf na die dood van ʼn laboratoriumtegnikus by die Irkoetsk-navorsingsinstituut vir Plaagbestryding van Siberië in die suidooste van Moskou. Volgens onbevestigde berigte het die 28-jarige Darya Shipilova siek geword nadat ʼn proefbuis met builepes gebreek het, of ná ʼn besoek aan ʼn streek waar dit natuurlik voorkom. Rusland sê sy is dood aan longontsteking van “onbekende” oorsprong. ʼn WGO-woordvoerder, Christian Lindmeier, sê Rusland moet ʼn akkurate bepaling van ʼn moontlike openbare gesondheidsgevaar moontlik maak:
# Sokker: Cristiano Ronaldo beskuldig Portugal se hoofafrigter, Jorge Jesus, dat hy sy beloftes aan hom verbreek het. Die 41-jarige kaptein het die nasionale span op die vooraand van ʼn Nasiesliga-wedstryd teen Denemarke verlaat nadat hy ʼn ongebruikte plaasvervanger teen Noorweë was. Renaldo beskuldig Jesus in ʼn lang verklaring van ʼn “absolute skending van vertroue” omdat hy hom nie soos belowe teen Noorweë laat speel het nie, en nie die ooreengekome weergawe van gebeure aan die media voorgelê het nie. Hy het beklemtoon dat hy nie aan die nasionale span onttrek nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-941-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-142-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 104-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….