Nuus 07:00
BULLETIN 7 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ambassadeur Bozell sê Suid-Afrika ondermyn sy eie ekonomiese vooruitsigte
# ‘n Mandrax-vervaardigingslaboratorium is in Noordwes ontdek
# En krieket: Kagiso Rabada sal genoeg tyd kry om sy fiksheid te bewys voor die eerste toetswedstryd
# Amerika se ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, sê daar is Amerikaanse beleggings van miljarde dollars en duisende moontlikhede vir werksgeleenthede, maar Suid-Afrikaanse beleid staan in die pad daarvan. Sy jongste opmerkings volg terwyl die verhouding tussen Washington en Pretoria toenemend gespanne raak. Bozell het in ‘n onderhoud met Fox News Digital gewaarsku die land beweeg al nader aan Amerika se teenstanders soos China, Rusland en Iran. Hy sê rassevereistes ontmoedig belegging:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Petroleumkleinhandelaars waarsku vandeesmaand se brandstofprysstygings gaan verdere druk op huishoudings en besighede plaas. Die prys van petrol het met meer as drie-rand per liter gestyg, terwyl die pryse van diesel en paraffien ook skerp toegeneem het. Vishal Premlall van SAPRA sê die hoër koste sal voedselpryse, vervoer en aflewerings beïnvloed en kan inflasie vererger. Premlall het ook gewaarsku hoë brandstofpryse kan die verkoop van onwettige brandstof en brandstof van swak gehalte bevorder:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê volhoubare finansiering en betroubare administrasie moet saam vorder en befondsingsbeleid moet ondersteun word deur funksionerende besluite, appèlle, verblyf en toelaag-betaalstelsels. Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente maak tans gereed vir die volgende akademiese jaar. Manamela sê hulle moet risiko’s betyds identifiseer en oplos voor studente die koste moet dra. Manamela vra duideliker verslagdoening oor onreëlmatige uitgawes, en sê ‘n afnemende register alleen is nie bewys dat geld verhaal of dat nie-nakoming voorkom is nie.
# Die polisie in Noordwes het gister drie Suid-Afrikaners en ʼn Zimbabwiër in hegtenis geneem na die ontdekking van ʼn multimiljoen-rand Mandrax-vervaardigingslaboratorium op ʼn kleinhoewe by Hartbeespoort-dam. Die polisie het inligting ontvang oor moontlik onwettige aktiwiteite op die perseel. Die provinsiale polisiekommissaris, Arthur Adams, sê toe hulle op die perseel aankom, het Brits se misdaadintelligensie en die Hartbeespoortdam-honde-eenheid die vier verdagtes gevind. Hy sê hulle het ook afgekom op vier vuurwapens, ʼn mengsel om dwelms te maak en toerusting wat vermoedelik gebruik word om dwelms te vervaardig:
# Die Britse teenterreurpolisie het ʼn 22-jarige Britse man in hegtenis geneem wat verdink word dat hy verlede maand terreurdade voorberei het wat met die RAF Fairford-komplot verband hou. Vyf mans is op 27 September naby die basis vasgetrek weens vermeende plofstofoortredings en voorbereiding om ʼn terreurdaad te pleeg, maar is later op borgtog vrygelaat. ʼn Sesde man met dubbele Iranse-Britse burgerskap, is verlede week gearresteer, maar ook op borgtog vrygelaat. Die teenterreurpolisie sê dit bly ʼn aktiewe ondersoek en hulle bly verbind om die saak uit alle hoeke te ondersoek.
# Krieket: Die Proteas se top-snelbouler, Kagiso Rabada, sal al die tyd kry wat nodig is om sy fiksheid te bewys vir die eerste toets teen Australië wat Vrydag in Durban begin. ‘n Besering het hom uit die eendagreeks tussen die twee lande gehou, maar hy het ‘n tweedaagse wedstryd tussen spanlede sonder probleme voltooi. Assistent-afrigter Ashwell Prince sê die 31-jarige het goed geboul en sal voortgaan om aan oefensessies deel te neem. Die tweede toets begin op die 18de in Gqeberha en die laaste een op die 27ste in Kaapstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-219-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-148-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 104-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….