Nuus 18:00
BULLETIN 6 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as 14-duisend verdagtes word in hegtenis geneem tydens ‘n landwye Operasie Shanela
# Kenia bevestig sy eerste inkomende geval van Ebola
# En, tennis: Carlos Alcaraz verdedig sy Japannese Ope-titel teen Jiri Lehecka
# Die polisie het 14-duisend-581 verdagtes landwyd aangekeer tydens die jongste Operasie Shanela-veldtog teen ernstige misdaad, geslagsgeweld en vrouemoord. Speurders het een-duisend-811 gesoekte verdagtes opgespoor. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê die inhegtenisnemings sluit in 174 vir verkragting, 140 vir moord en 130 vir poging tot moord:
# Die VF Plus vra president Cyril Ramaphosa om plaasmoorde te erken en te veroordeel nadat die 70-jarige Hannetjie van Zyl gisteraand naby Ottosdal in Noordwes vermoor is. Die party sê Van Zyl is by haar plaashek op die Doornpan-pad aangeval en is op pad hospitaal toe dood weens ‘n hou teen die kop. Die VF Plus-leier Corné Mulder sê dit is tyd vir die regering om plaasaanvalle ernstig te begin opneem:
# Kenia se ministerie van Gesondheid het die land se eerste inkomende geval van Ebola bevestig. Die minister van Gesondheid, Aden Duale, sê ‘n Keniaanse burger wat al sewe jaar in die Demokratiese Republiek die Kongo woon, het Saterdag per pad na Kampala gereis voordat hy na Nairobi gevlieg het en is gisteraand oorlede. Hy sê die owerhede is besig om 28 kontakte op te spoor, insluitend familielede en gesondheidswerkers, sowel as 23 passasiers en vier bemanningslede:
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Carlos Alcaraz, is die nuwe Japannese Ope-kampioen. Hy het Jiri Lehecka van Tsjeggië in die eindstryd in die Ariake-coliseum in Tokio in 96 minute in skoonstelle verslaan en darrmee sy titel van verlede jaar suksesvol verdedig. Dit is die 23-jarige se eerste toernooi-trofee sedert Doha in Februarie vanjaar. Alcaraz is slegs die derde man wat sy titel in Tokio suksesvol verdedig het, na Stefan Edberg van Swede wat vanaf 1988 tot 1991 gewen het, en die 1993 en 1994-kampioen, die Amerikaner Pete Sampras.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-310-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-154-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 101-dollar-36-sent per vat.
# En ten slotte, ‘n nuwe studie deur die Universiteit van Kaapstad toon Suid-Afrikaners bestee ‘n verstommende 500-miljard-rand per jaar jaar aan vierings. Die navorsing toon sommige mense bestee tot een-miljoen-rand aan troues, terwyl grafsteenseremonies tot 140-duisend-rand kan kos. Die studie wys ook nege-duisend troues is landwyd binne ‘n tydperk van 32 dae gehou, met die meeste in Gauteng, naamlik twee-duisend-en-70. Navorsers sê vierings bly ’n belangrike deel van die ekonomie en die samelewing, ondanks finansiële druk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………..