Nuus 17:00
BULLETIN 6 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie doen ‘n oudit van die uitslagstelsel voor die 2026-plaaslike regeringsverkiesing
# Tennis: die wêreld-nommer-een Jannik Sinner gaan die res van die seisoen weens ‘n besering misloop
# En, Cyril Ramaphosa se Ankole-vers behaal ‘n rekordprys van 6,4-miljoen-rand
# Die Verkiesingskommissie sê ‘n oudit van die uitslagstelsel vir die plaaslike regeringsverkiesing is tans aan die gang. Die stelsel word gebruik om verkiesingsuitslae vas te lê en saam te stel, asook om setels aan politieke partye en kandidate toe te ken. Die OVK se woordvoerder, David Mandaha, sê kundiges op die gebied van inligtings- en kommunikasietegnologie vanuit die ACDP, ANC, DA en MK-party neem aan die proses deel. Die ondersoek fokus op die stelsel se integriteit, veiligheid, doeltreffendheid en betroubaarheid:
# Die adjunkpresident van die Patriotic Alliance, Kenny Kunene, sê die party sal met ander politieke partye saamwerk om Johannesburg te bestuur ná die plaaslike verkiesing op 4 November. Kunene het aan die SABC gesê sy ervaring as lid van die Burgemeesterskomitee vir Vervoer het hom insig gegee in die uitdagings rondom dienslewering. Hy sê die PA sal infrastruktuur, openbare veiligheid, munisipale skuld en verbeterde dienste vooropstel, terwyl hulle vennootskappe aangaan met partye wat soortgelyke prioriteite deel:
# Die bemanning van ‘n vragskip word vermis nadat dit in die Swart See, voor die kus van die NAVO-lidland Bulgarye, ná ‘n hommeltuigaanval gesink het. Die Bulgaarse premier, Rumen Radev, sê twee vragskepe is ongeveer 112 kilometer van die kus af aangeval. Die bemanning van ‘n tweede skip wat graan vervoer het, is gered en twee mense is beseer. Die nasionaliteit van die vermiste bemanning is onbekend. ‘n Bron in maritieme veiligheid sê aanvanklike ramings dui daarop dat Rusland verantwoordelik was. Bulgarye het ‘n soektog na die vermiste bemanning van stapel gestuur.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, gaan die res van die seisoen weens ‘n kniebesering misloop. Hy het in Julie laas gespeel op Wimbledon, toe hy sy vierde Grand Slam-titel gewen het. Die president van Italiaanse Tennis, Angelo Binaghi, sê die federasie sal die 25-jarige ondersteun, aangesien sy fisieke welstand voorrang geniet bo enige uitslag of mededingende verpligting. Sinner se besluit beteken dat Alexander Zverev van Duitsland – wat vanjaar sy eerste twee Grand Slam-titels verower het – voor die einde van die seisoen eerste op die wêreldranglys kan wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-191-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-169-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 100-dollar-61-sent per vat.
# En laastens, president Cyril Ramaphosa se Ankole-beeste het rekordpryse behaal op ‘n veiling op sy Phala Phala-plaas in Limpopo. ‘n Dragtige driejarige vers, Queen Arusha, is vir ‘n rekordbedrag van 6,4-miljoen-rand verkoop, en het daarmee ‘n Suid-Afrikaanse rekordprys vir ‘n teelvers behaal. Twee eenhede saad van die bul Optimus Prime, wat aan Ramaphosa behoort, is ook teen ‘n rekordprys van 250-duisend-rand elk verkoop. Die driejarige vers kom van Ramaphosa se Ntaba Nyoni-beesplaas, waar Ankole-beeste sedert 2004 geteel word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….