Nuus 16:00
BULLETIN 6 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die datums van Mbeki en Zuma se verskyning voor die WVK-ondersoek word bevestig
# Gholf: LIV verkry broodnodige befondsing van BC Partners Credit
# En ‘n NDBV-ondersoek bevind die polisiehond Sky het maande lank gely voor haar dood
# Oudpresidente Thabo Mbeki en Jacob Zuma sal na verwagting hierdie maand voor die Waarheids- en Versoeningskommissie-ondersoek getuig. Mbeki sal op 19 en 20 Oktober sy getuienis lewer en Zuma die 22ste. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof hul laaste poging verwerp het om oudregter Sisi Khampepe as voorsitter van die ondersoek te laat verwyder. Die ondersoek kyk na bewerings rakende politieke inmenging in vervolgings wat verbind is aan die apartheidsera. Albei sal na verwagting oor gebeure tydens hul onderskeie ampstermyne getuig.
# AgriSA sê die Suid-Afrikaanse landboubedryf het sterker skakeling nodig tussen probleme op plase en regeringsbesluite. Die organisasie sê kwessies soos swak paaie, vertragings met watervoorsiening, veiligheid en uitdagings rondom arbeid, raak boere asook die breër voedselstelsel. AgriSA sê sy netwerk en sentrums van uitnemendheid help om inligting van boere in te samel, verwerk dit as bewysmateriaal en werk saam met die regering en ander organisasies om oplossings te kry. Die organisasie sê die doelwit is om te verseker dat probleme wat deur boere geopper word, tot praktiese verbeterings lei.
# Die vakbondfederasie COSATU en geaffilieerde vakbonde sal môre Wêrelddag vir Waardige Werk herdenk met optogte en plakkaatbetogings om werkers se uitdagings te beklemtoon. Woordvoerder Zanele Sabela sê werkers word swaar getref deur toenemende afleggings, die nie-nakoming van die nasionale minimumloon, toenemende tydelike aanstellings en druk op gesamentlike bedingingsregte. Sy sê die nakoming van die nasionale minimumloon bly ‘n groot uitdaging, aangesien ‘n geraamde 40-persent van werkers steeds minder as die voorgeskrewe vergoeding verdien:
# Gholf: LIV Gholf het ‘n finansieringsbelofte van 4,98-miljard-rand van BC Partners Credit verkry om die wegbreek-liga voor die 2027-seisoen by te staan. LIV het verlede maand in Amerika aansoek gedoen om bankrotskaps-beskerming om te herstruktureer nadat Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds sy finansiële steun onttrek het. BC Partners Credit sê die belegging sal LIV help om weer op sy voete te kom as ‘n finansieel sterk, volhoubare en span-georiënteerde gholfliga wat die bestaande beroeps-toere aanvul. LIV se uitvoerende hoof, Scott O’Neil, sê die belegging is ‘n belangrike stap vorentoe.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-142-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-175-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-64-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings gaan ‘n klagte van dieremishandeling teen polisiebeamptes indien oor wat met die polisiehond Sky gebeur het. Die vyfjarige Belgiese Malinois is verlede maand ernstig beseer in ‘n polisie-veeartsenygerief in Roodeplaat, Pretoria, en moes later uitgesit word. Volgens die raad het Sky maande lank erge spanning en herhaalde beserings verduur, maar is nie verwyder uit die omgewing wat haar lyding veroorsaak het nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….