Nuus 14:00
BULLETIN 6 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Feroz Khan se getuienis voor die Madlanga-kommissie word uitgestel ná die dood van ‘n familielid
# Solidariteit stel nie-rassige alternatiewe voor om AGOA-voordele te beskerm
# En skoolbetogings in Frankryk sal na verwagting verskerp ná massa-inhegtenisnemings
# Die voormalige adjunkhoof van Misdaadintelligensie, generaal-majoor Feroz Khan, se verskyning voor die Madlanga-kommissie is onbepaald uitgestel ná die skietdood van ‘n familielid, Preggy Padayachee, gisteraand naby die OR Tambo-internasionale lughawe in Gauteng. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Khan sou agter geslote deure getuig nadat hy in Junie ‘n beweerde sluipmoordpoging oorleef het. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê verdere besonderhede sal mettertyd bekend gemaak word:
# Die vakbond Solidariteit het ‘n skikkingsvoorstel oor Suid-Afrika se rasgebaseerde beleide aan die Suid-Afrikaanse en die Amerikaanse regering voorgelê om die land se voordele ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika te beskerm. Woordvoerder Theuns du Buisson sê die Withuis heroorweeg Suid-Afrika se deelname en hy verwag ‘n aankondiging teen 1 November. Du Buisson stel voor rasgebaseerde beleide moet teen 2030 afgeskaf en vervang word met nie-rassige maatreëls:
# Die finansiële dienstegroep en langtermynversekeraar Sanlam wil die oorblywende 37,3-persent aandeel in die korttermynversekeraar Santam verkry. Santam sal van die Johannesburgse Aandelebeurs, die Namibiese Aandelebeurs en A2X geskrap word indien die transaksie deur minderheidsaandeelhouers goedgekeur word. Sanlam bied 505-rand per aandeel aan beleggers. Uitvoerende hoof, Paul Hanratty, sê Santam se raad het bevestig hul steun die voorgestelde reëling eenparig en beveel aandeelhouers aan om ten gunste daarvan te stem.
Nuus uit die buiteland:
# Frankryk maak gereed vir ‘n landwye dag van leerderbetogings nadat meer as vyf-duisend mense verlede week in hegtenis geneem is. Tot 500 hoërskole is heeltemal of gedeeltelik gesluit. Die onrus het begin weens ‘n tekort aan onderwysers, oorvol klaskamers en vervalle skoolgeboue. Meer as 170 leerders en 78 onderwysers is beseer. Die onrus het gister toegeneem toe ‘n 15-jarige seun ernstig beseer is tydens botsings met die polisie. Vakbonde sluit vandag by die betogings aan, wat die druk op president Emmanuel Macron se regering verder verhoog.
# Krieket: Suid-Afrika-A se gereelde kaptein, Marques Ackerman, sê hy is gereed vir toetskrieket nadat hy op alle denkbare vlakke gespeel het. Hy gaan na verwagting sy buiging vir die Proteas maak wanneer die eerste toets teen Australië Vrydag in Durban begin. Die 30-jarige kaptein van die Dolphins het op elke vlak in Gauteng gespeel en die Suid-Afrika-onder-19- en die SA Akademie-span verteenwoordig. Ackerman sê hy het hard gewerk vir sy eerste toets-oproep en hoop hy kan ‘n bydrae lewer wanneer hy sy kans kry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-56-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-153-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….