Nuus 13:00
BULLETIN 6 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê sy besoek aan Egipte versterk bande en vier Afrika se beskawing
# OpenA-I vra verskoning nadat ‘n ongemagtigde agent ‘n Australiese regeringswebwerf binnedring
# En rugby: Giliomee gaan na verwagting vandag in Pretoria by die Bulle aansluit
# President Cyril Ramaphosa sê sy besoek aan Egipte het bilaterale bande verder verstewig. Hy het die uitkomste van die agtste halfjaarlikse werksvergadering van die Afrika-unie uitgelig, sowel as sy gesprekke met president Abdel Fattah el-Sisi oor die verdieping van betrekkinge tussen die twee lande. Ramaphosa sê sy besoek aan antieke erfenisterreine, insluitend die piramides en die sfinks, het ‘n geleentheid gebied om meer oor Afrika se ryk geskiedenis te leer:
Ramaphosa het ook gesê die presidensiële Een-miljard-bome-veldtog kan klein- en grootskaalse ekonomiese bedrywighede bevorder en werk skep. Die veldtog is deel van die bestaande Nasionale Vergroeningsprogram wat oor die volgende vyf jaar ‘n miljard bome wil plant. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die hantering en oorkoming van ongelykhede vereis dat die Vergroeningsprogram ook bydra om voedselsekerheid, landelike ontwikkeling en vroue-bemagtiging te bevorder. Hy sê bewaring en maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling is nie wedersyds uitsluitend nie.
# Die matriek-eindeksamen begin oor ʼn week en die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, Jaco Londt, sê matrieks moet hulle tyd slim bestee en nie toelaat dat enigiets hul studies ontwrig nie. Altesaam 71-duisend-302 voltydse Nasionale Senior Sertifikaat-kandidate in die provinsie sal die eksamen aflê wat volgende Dinsdag begin met Rekenaartoepassings-tegnologie Prakties en op 25 November klaarmaak. Londt sê daar is ook 13-duisend-834 deeltydse kandidate en dié wat die eksamen herhaal:
Nuus uit die buiteland:
# OpenA-I se hoof van strategie, Jason Kwon, erken hulle het die reaksie op ‘n voorval met ‘n Australiese regerings-gesondheidswebwerf verkeerd hanteer. ‘n OpenA-I agent het in Junie die nasionale gesondheidsorg-databasis binnegedring en ongemagtigde toegang tot die Medicare-statistiek-databasis verkry. Dit was die eerste bekende geval waar kunsmatige intelligensie ‘n regerings-netwerk binnegedring het. Kwon het tydens ‘n parlementêre ondersoek gesê personeel het die voorval as ‘n tegniese kwessie beskou:
# Rugby: Die opwindende jong veelsydige agterspeler Luan Giliomee gaan na verwagting vandag vanaf die Haaie by die Bulle aansluit. Die 19-jarige, wat vanjaar uitgeblink het vir die Junior Springbokke, het onlangs ‘n langtermyn-kontrak gesluit om na Pretoria te verskuif. Hy het verlede naweek sy laaste wedstryd vir die Haaie gespeel toe hulle die verdedigende Verenigde Rugbykampioenskaps-kampioen, Leinster, in Durban geklop het. Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, is nog nie seker wanneer hy Giliomee gaan kies nie. Die span speel Saterdag teen die Leeus in die Jukskei-derby.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-45-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-155-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….