Nuus 11:00
BULLETIN 6 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Laer kiesersopkoms word in die komende verkiesing verwag weens wantroue en ‘n gebrek aan betrokkenheid onder jongmense
# Die Internasionale Strafhof maak lasbriewe bekend teen vier senior Taliban-leiers oor misdade teen die mensdom
# En rugby: Die Stormers se verdedigingsafrigter is opgewonde oor die beskikbaarheid van hulle Springbokke vir die kragmeting met die Haaie
# Die meeste stemgeregtigde Suid-Afrikaners gaan nie aan volgende maand se plaaslike regeringsverkiesing deelneem nie weens ontnugtering onder jongmense, wantroue en verbreekte politieke beloftes. Volgens Daily Maverick toon inligting deur die marknavorsingsfirma Ipsos dat 47-persent van deelnemers voel geen politieke party verteenwoordig hul standpunte nie, en 38-persent het geen belangstelling in politiek of verkiesings nie. Veertig-persent van jongmense tussen 18 en 34 vertrou nie die Verkiesingskommissie nie. Naledi Modise van die Noordwes-universiteit, sê die oorheersing deur ‘n enkele party het aanspreeklikheid verswak en bygedra tot ontevredenheid onder kiesers.
# Die polisie in Gauteng ondersoek ‘n saak van moord en poging tot moord na ʼn skietvoorval op die R-21 in die rigting van die OR Tambo Internasionale Lughawe. Volgens onbevestigde berigte is die slagoffer Preggy Padayachee, ʼn familielid van die voormalige adjunkhoof van Intelligensie, Feroz Khan, wat na verwagting vandag voor die Madlanga-kommissie getuig. ʼn Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê volgens voorlopige berigte het ‘n voertuig gaan staan en die bestuurder het ʼn vriend gebel vir hulp:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid verwelkom die uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria wat ʼn dringende aansoek deur die sakeman Morgan Maumela en die trustees van die MHR Maumela-familietrust van die hand gewys het. Hulle wou keer dat ʼn Ferrari van 9,5-miljoen-rand verkoop word. Die luukse voertuig is onder die bates waarop die eenheid beslag gelê het tydens sy ondersoek na korrupsie en wanadministrasie by die Tembisa Hospitaal. Die eenheid se woordvoerder, Selby Makgotho, sê die voertuig is gekoop met geld wat deur onregmatige tenders verkry is:
Nuus uit die buiteland:
# Die Internasionale Strafhof het vier lasbriewe vir inhegtenisneming bekendgemaak teen senior Taliban-leiers. Hulle word beskuldig dat hulle vroue en meisies in Afganistan vervolg het, wat op ʼn misdaad teen die mensdom neerkom. Die vier sluit in die Taliban-opperleier, Haibatullah Akhundzada, en hoofregter Abdul Hakim Haqqani. Die hof voer aan daar is redelike grond om te glo al vier is strafregtelik aanspreeklik vir die opdrag tot vervolging van meisies, vroue en ander mense wat nie voldoen aan die de facto Taliban-regering se beleid oor geslag, geslagsidentiteit of uitdrukking nie.
# Rugby: Die Stormers se verdedigingsafrigter, Norman Laker, is vol vertroue dat die terugkerende Springbokke naatloos sal inskakel by die span se stelsel. John Dobson se span wil opmaak ná hul nederlaag teen Edinburgh wanneer hulle Saterdag die Haaie in die Verenigde Rugbykampioenskap pak. Die Stormers het byna ʼn volledige groep Bok-spelers beskikbaar vir die wedstryd, insluitend Deon Fourie, Damian Willemse en Sacha Feinberg-Mngomezulu. Laker sê die terugkerende spelers sal vinnig inskakel by die aanpassings aan die stelsel tydens die voorseisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-29-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-130-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….