Nuus 09:00
BULLETIN 6 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA waarsku teen die uitwerking van die brandstofprysstygings
# Donald Trump onderteken ‘n uitvoerende bevel om dieselpryse te verlaag
# En sokker: Die Argentynse ikoon Lionel Messi speel sy afskeidswedstryd teen Benin
# Die landbou-organisasie, TLU SA, sê die jongste brandstofprysverhogings sal die landbousektor onder geweldige druk plaas. Petrolpryse styg van môre af met tussen drie-rand-12-sent en drie-rand-33-sent per liter; dieselpryse met tussen twee-rand-84-sent en drie-rand-24-sent per liter, en die prys van paraffien met vier-rand-77-sent per liter. Bennie van Zyl van TLU SA sê die hoër brandstofkoste sal die koste van boerderybedrywighede, vervoer en voedselproduksie verhoog:
Die vakverbond COSATU sê intussen die komende massiewe stygings in brandstofpryse, van gemiddeld drie-rand vir petrol, diesel en paraffien, is nog ‘n terugslag wat die werkersklas en die ekonomie eenvoudig nie kan bekostig nie. Hy vra die Parlement om die Tweede Spesiale Toewysingswetsontwerp te bekragtig wat tien-miljard-rand aan die Sentrale Energiefonds se Gelykmakingsfonds beskikbaar sal stel. COSATU-woordvoerder, Matthew Parks, sê dit sal druk op lewenskoste verlig, laer inflasie beteken en nog ʼn vernietigende rentekoersverhoging in November voorkom:
# Die Regterlike Dienskommissie het besluit om regters Gerald Bloem, Mmathebe Phatshoane en Esther Steyn by president Cyril Ramaphosa aan te beveel vir drie vakante poste by die Appèlhof. Bloem is gister tydens sy onderhoud uitgevra oor sy beslissing wat Shell se eksplorasie van olie en gas aan die Wildekus uiteindelik verbied het. Phatshoane het klem gelê op haar werk as rolmodel vir jong vroue, terwyl Steyn haar tyd by die Verkiesingshof beklemtoon het. Die kommissie voer tans onderhoude om 22 poste by elf howe te vul.
# Die Amerikaanse president Donald Trump het ‘n uitvoerende bevel onderteken om beperkings op die gebruik van ‘n belastingvrye soort diesel te verslap, ten einde dieselpryse, wat naby rekordvlakke is, te verlaag. Volgens die Withuis sal die bevel “gekleurde” diesel, wat gewoonlik vir veldgebruik bedoel is, tydelik op hoofweë toelaat, en die toepaslike federale aksynsbelasting uitstel. Dieselpryse het die hoogte ingeskiet van 3-dollar-76-sent per gelling voor die Iran-konflik tot ‘n rekordhoogte van 6-dollar-53-sent per gelling in September. Trump het tydens ‘n toespraak in Nebraska gesê dit sal boere en vragmotorbestuurders help:
# Sokker: Die Argentynse held Lionel Messi speel vanaand sy laaste internasionale wedstryd in ‘n vriendskaplike kragmeting teen Benin in Buenos Aires. Die 39-jarige superster het sedert sy debuut in 2005 altesaam 125 doele in 207 wedstryde vir sy land aangeteken – rekords vir beide doele en die aantal wedstryde vir Argentinië. Daar word verwag dat ‘n skare van 85-duisend die Estadio Monumental in die hoofstad sal volpak om van hul kaptein afskeid te neem. Plaaslike Messi-ondersteuners kan ‘n laat aand verwag, aangesien die wedstryd môreoggend om eenuur, Suid-Afrikaanse tyd, afskop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-592-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-126-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….