Nuus 08:00
BULLETIN 6 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC vra vir ‘n vermindering van die brandstof- en Padongelukkefondsheffings
# Die polisie bevestig die tugverhoor van Shadrack Sibiya gaan volgende week voort
# En die gewilde skrywer en politikus Jeffrey Archer is op 86-jarige ouderdom oorlede
# Die ANC het die Nasionale Tesourie gevra om die brandstof- en Padongelukkefondsheffings te verlaag om Suid-Afrikaners te beskerm teen die uitwerking van die rekordstygings in brandstofpryse. Petrolpryse styg van môre af met tussen drie-rand-12-sent en drie-rand-33-sent per liter; dieselpryse met tussen twee-rand-84-sent en drie-rand-24-sent per liter, en die prys van paraffien met vier-rand-77-sent per liter. ‘n ANC-woordvoerder, Fasiha Hassan, sê hoër brandstofpryse beteken hoër lewenskoste vir burgers wat reeds sukkel:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sê die tugverhoor van die geskorste nasionale adjunk-polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, is gister gehou, ten spyte van berigte dat dit gestaak is. Hy word na aanleiding van inligting by die Madlanga-kommissie beskuldig van korrupsie en wangedrag. Sibiya bly in aanhouding oor afsonderlike bewerings van verkragting en seksuele gereedmaking. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê Sibiya het uitstel gevra om met sy regspan te beraadslaag. Dit is toegestaan en die verhoor sal Maandag voortgaan:
# Die Gautengse Departement van Gemeenskapsveiligheid vra openbare vervoer- en leerdervervoer-operateurs om versigtig te wees en verantwoordelik te bestuur, aangesien skole vandag vir die laaste kwartaal van die akademiese jaar heropen. Sello Maremane van die departement sê nie-nakoming van verkeerswette en onveilige vervoerpraktyke nie geduld sal word waar dit die lewens van leerlinge en ander padgebruikers in gevaar stel nie. Hy herinner leerdervervoer-operateurs daaraan dat die veiligheid van kinders ‘n prioriteit moet bly:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Coco Gauff, sê sy is op sosiale media aan rassistiese aanvalle blootgestel na haar oorwinning oor Sun Xinran by die Chinese Ope in Beijing. Die Amerikaner was 4-5 voor in die eerste stel toe Sun gedink het sy het ʼn kishou geslaan. Gauff het egter ophou speel oor ʼn flikkerende lig in die sypanele rondom die baan. Sy het voortgegaan en die wedstryd met 7-5, 6-1 gewen om die laaste 16 te haal. Gauff het die situasie in ʼn sosialemedia-inskrywing verduidelik en beklemtoon dat sy nie kul nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-546-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-129-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-84-sent per vat.
# En ten slotte: Die topverkoper-skrywer en gewese politikus, Jeffrey Archer, is op 86 oorlede. Hy het ʼn suksesvolle loopbaan gehad as romanskrywer en het wêreldwyd meer as 300-miljoen boeke verkoop, insluitend die Clifton Chronicles en Kane and Abel. Archer se politieke loopbaan het in 1967 begin. Hy was vyf jaar lank ʼn Konserwatiewe parlementslid voor hy as die party se ondervoorsitter gedien het. Hy was van 2001 af in die tronk vir meineed en regsverydeling en is in 2023 vrygelaat. Archer se laaste roman, Adam And Eve, verskyn vandag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….