Nuus 07:00
BULLETIN 6 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula hou vol die bewerings oor stemkoop is vals
# Die EFF vra die regering om die brandstofheffing dringend te verlaag
# En tennis: Novak Djokovic het deurgedring na die eindstryd van die Chinese Ope
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, verwelkom die Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg se besluit dat sy lastersaak teen die ANC se Nasionale Uitvoerende Komiteelid, Nkosazana Dlamini-Zuma, deur mondelinge getuienis bepaal sal word. Mbalula dagvaar Dlamini-Zuma nadat sy hom beskuldig het dat hy by die party se nasionale verkiesingskonferensie in 2022 kontant aan afgevaardigdes uitgedeel het om hul stemme te kry. Mbalula sê die bevel beteken nie die bewerings teen hom is waar bevind nie. Hy sê die bewerings is vals en hy het niks om weg te steek nie.
# Die EFF sê die jongste styging in brandstofpryse is rampspoedig vir die werkersklas en arm Suid-Afrikaners. Petrolpryse styg van môre af met tussen drie-rand-12-sent en drie-rand-33-sent per liter; dieselpryse met tussen twee-rand-84-sent en drie-rand-24-sent per liter, en die prys van paraffien met vier-rand-77-sent per liter. Sixolise Gcilishe van die EFF sê Suid-Afrika beheer nie die internasionale ruolie-prys nie, maar die regering beheer belasting, fiskale beleid, regulasies en die mate waartoe hy ingryp om burgers teen ekonomiese skokke te beskerm:
# Die Mededingingskommissie het nuwe riglyne uitgereik wat aan verbruikers meer keuses en goedkoper herstelopsies bied. Die riglyne dek selfone, elektronika, huishoudelike toestelle, mediese toerusting en rugsteunkragstelsels. Siyabulela Makunga van die kommissie sê vervaardigers behoort nie toegang tot onderdele, herstelinligting of diagnostiese gereedskap te blokkeer, of verhoed dat onafhanklike herstellers meeding nie. Makunga het bygevoeg dat groter mededinging herstelkoste kan verlaag, klein besighede kan ondersteun en verbruikers kan help om hul produkte vir langer te gebruik.
# Die DA sê inwoners van Delft in die Wes-Kaap word sonder beskerming gelaat terwyl die polisie met ernstige personeeltekorte en swaar werksladings worstel. Dit volg op die dood van drie mans in twee afsonderlike voorvalle in die gebied. Benedicta van Minnen van die party sê een polisiebeampte is verantwoordelik vir ongeveer 726 inwoners, terwyl elke speurder gemiddeld 77 sake hanteer. Van Minnen doen ‘n beroep op meer sigbare polisiëring en moordsondersoeke wat behoorlik van hulpbronne voorsien word:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê sy land het steeds vertroue in die veiligheid van al sy basisse. Dit volg nadat Amerika al sy B-1-bomwerpers van RAF Fairford in Brittanje na basisse in Amerika verskuif het. Die Britse lugmagbasis was verlede maand die teiken van ‘n vermeende terreur-aanval wat gelei het tot die inhegtenisneming van vyf Britse burgers, wat later op borgtog vrygelaat is. Rubio sê hy sal nie die verwydering van die bomwerpers van Fairford regstreeks met verlede week se voorval verbind nie:
# Tennis: Die sesmalige kampioen, Novak Djokovic, is deur na die Chinese Ope se eindstryd nadat Daniil Medvedev gediskwalifiseer is in hul halfeindronde-kragmeting in Beijing. Die Serwiër het gedien toe die bal van ʼn muur af bons. Die Rus het dit per ongeluk geslaan, dit het deur die lug getrek en ʼn toeskouer op die oog getref. Medvedev is gediskwalifiseer en sal alle punte en prysgeld wat hy tydens die toernooi verdien het, verloor. Djokovic kom vandag in die kampioenskapswedstryd teen die Australiër, Alex de Minaur, te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-661-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-133-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 103-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….