Nuus 06:00
BULLETIN 6 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nkosazana Dlamini-Zuma verwelkom die hofuitspraak oor haar bewerings teen Fikile Mbalula
# Meer as 200 Amarok-voertuie word herroep weens ‘n moontlike lugsakfout
# En drie wetenskaplikes ontvang die Nobelprys vir hul navorsing oor die brein
# Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komiteelid, Nkosazana Dlamini-Zuma, het ‘n uitspraak deur die Hooggeregshof in Johannesburg verwelkom in haar geskil met die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, vir wie sy van stemkopery beskuldig. Die hof het nie ‘n terugtrekking of verskoning gelas nie, maar wel beveel dat die saak deur middel van mondelinge getuienis beslis moet word. Dlamini-Zuma sê sy sal met die hofproses saamwerk, terwyl sy terselfdertyd vra vir ‘n eerlike ondersoek na die gebruik van geld in die ANC se interne verkiesings. Sy het bygevoeg sy sal nie verder in die openbaar oor die saak kommentaar lewer nie.
# Die adjunkminister in die Presidensie vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Mmapaseka Steve Letsike, sê tradisionele leiers het ‘n belangrike rol te speel in die stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord. President Cyril Ramaphosa het verlede week die regering se verbintenis herbevestig om hierdie euwel dringend die hoof te bied deur middel van ‘n vierpunt-herstelplan wat die nasionale reaksie moet versterk. Letsike sê tradisionele leiers, as bewaarders van kultuur en die gemeenskap se morele waardes, kan skadelike patriargale norme uitdaag wat geslagsgeweld en vrouemoord in stand hou. Sy sê hulle kan ook tradisionele rade en howe as sentrums vir geregtigheid aanwend.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het ‘n veiligheidsterugroeping aangekondig wat 291 Volkswagen Amarok-voertuie raak wat tussen Junie en September vanjaar in Suid-Afrika verkoop is. Phetho Ntaba van die kommissie sê die gordynlugsakke mag moontlik nie tydens ‘n botsing van voor of sybotsing ten volle ontplooi nie weens kontak met ‘n voertuigonderdeel. Ntaba het eienaars aangemoedig om die betrokke voertuie na ‘n goedgekeurde Volkswagen-handelaar te neem vir gratis herstelwerk:
# Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal, Thulasizwe Buthelezi, sê amptenare sal voortgaan om die situasie by die Zoo- informele nedersetting te monitor na ‘n brand ongeveer 40 strukture vernietig het. Die brand het Sondagoggend in die uMngeni-munisipaliteit uitgebreek en talle inwoners dakloos gelaat. Siboniso Mngadi van die departement sê geen sterftes of ernstige beserings is aangemeld nie:
# Die Nobelprys vir Fisiologie of Geneeskunde vir 2026 is aan drie wetenskaplikes toegeken: die Amerikaner Karl Deisseroth en sy Duitse kollegas Peter Hegemann en Georg Nagel. Dit is vir hul ontdekking rakende ligbeheerde ioonkanale en optogenetika. Die drietal se navorsing het gelei tot die ontwikkeling van ‘n ligsensitiewe skakelaar wat gebruik kan word om senuweeselle in die lewende brein te beheer deur hulle aan of af te skakel. Professor Anna Wedell, ‘n lid van die Nobelkomitee, sê hierdie navorsing bied ‘n beter begrip van die brein:
# Rugby: Die Stormers kan staatmaak op die ervaring van die veelsydige Springbok-voorspeler Deon Fourie om die lynstaan-probleme in die Verenigde Rugbykampioenskap uit te stryk. Die Kaapse span het Connacht in Ierland geklop maar daarna teen Edinburgh in Skotland verloor. Die veertigjarige Fourie is terug na sy internasionale verpligtinge, betyds vir Saterdag se wedstryd teen die Haaie. Sy mede-Springbokke, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Damian Willemse, Wilco Louw, Paul de Villiers en Cobus Reinach is ook terug. Fourie sê dit is nie regverdig om die haker alleen te blameer wanneer lynstane verkeerd loop nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-952-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-143-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 103-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….