Nuus 14:00
BULLETIN 5 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC wend hom tot die Konstitusionele Hof in ‘n laaste poging oor die kandidaatgeskil
# Die verhoor van die beskuldigdes in die AKA- en Tibz-moordsaak begin in Durban
# En sokker: Orlando Pirates wil 20,2-miljoen-rand in ‘n beweerde bedrogsaak laat bevries
# Die ANC bly hoopvol terwyl die party hom tot die Konstitusionele Hof wend in ‘n laaste poging om 181 kandidate te laat deelneem aan volgende maand se plaaslike regeringsverkiesing. Die party het die Onafhanklike Verkiesingskommissie se sperdatum van 28 Augustus misgeloop om sy proporsionele verteenwoordigingslyste in ses munisipaliteite in te dien. Die Kieshof het die party se appèlaansoek daarna van die hand gewys. Die ANC voer egter aan die kandidate se besonderhede is reeds op die OVK se stelsel gelaai, maar die finale indiening is nie voltooi nie.
# Die verhoor van die beskuldigdes in die moorde op die kletsrymer Kiernan “AKA” Forbes en Tebello “Tibz” Motsoane begin vandag in die Hooggeregshof in Durban. Sewe beskuldigdes staan tereg op aanklagte insluitend sameswering om moord te pleeg, moord, poging tot moord en vuurwapen-oortredings. Die broers Siyabonga en Malusi Ndimande, wat in November verlede jaar uit Eswatini uitgelewer is, is onder die beskuldigdes. Hulle het na bewering verskeie rolle gespeel in die skietvoorval in Februarie 2023 buite die Wish-restaurant in Floridaweg in Durban.
# Forum for South Africa verwelkom die bevordering van een-duisend-965 polisiebeamptes wat hierdie maand in werking tree. Dis deel van die polisie se breër strategie om die organisasie te versterk deur bekwame leierskap, kundige wetstoepassing, aanspreeklikheid en verbeterde dienslewering aan gemeenskappe. Die organisasie se leier, Tebogo Mashilompane, sê loopbaanvordering kan beamptes se gemoed ‘n hupstoot gee, maar moet meer aanspreeklikheid en verantwoordelikheid teweegbring:
# Sokker: Orlando Pirates het die Hooggeregshof in Johannesburg genader om 20,2-miljoen-rand wat met beweerde bedrog in die klub se finansiële afdeling verbind word, te bevries. Volgens hofstukke het ‘n forensiese ondersoek 742 verdagte betalings aan die lig gebring en 20,2-miljoen-rand opgespoor wat sedert 2016 na bewering sonder magtiging herlei is. Die klub sê die aansoek is ‘n voorsorgmaatreël terwyl die ondersoek voortduur. Pirates beklemtoon die betrokke persoon gee sy volle samewerking en voeg by die klub sal toesien dat almal wat by die saak betrokke is, regverdig behandel word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-50-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-155-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-17-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mamoloko Kubayi, sê elke leerder het geleentheid om deel te neem aan en uit te blink in regsgeletterdheids-programme. Sy het die Suid-Afrikaanse Nasionale Skole-skynhofprogram in die Konstitusionele Hof toegespreek. Kubayi sê dit gee leerders die geleentheid om kennis te maak met grondwetlike regte en die beskerming van kinders in die digitale era. Sy sê jongmense is ‘n bewys dat die Grondwet reaktiewe beskerming bied:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….