Nuus 09:00
BULLETIN 5 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA verwelkom die ingryping om die Gemengde Finansieringskema te herstel
# Brasilië se presidensiële verkiesing stuur af op ‘n tweede ronde
# En tennis: Djokovic beklink ‘n halfeindstryd teen Medvedev op die Chinese Ope
# Die landbou-organisasie, TLU SA, verwelkom die regering se verbintenis om die tydelike onderbreking wat Landbank ingestel het op nuwe aansoeke onder die gemengde finansieringskema, op te los. Die skema ondersteun meer as 14-duisend werksgeleenthede, insluitend sowat sewe-duisend-860 deur die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, en meer as ses-duisend-480 deur Landbank. Bennie van Zyl van TLU SA sê die Landboudepartement het ‘n bykomende 150-miljoen-rand beloof. Dit is buiten die toekenning van 325-miljoen-rand wat reeds vir die 2026/2027-boekjaar aan Landbank oorgedra is:
# ʼn News24/SABI-meningspeiling toon indien die plaaslikeregeringsverkiesing môre gehou word, sal die ANC steeds die grootste party wees met 31,6-persent. Dit is egter 14-persentasiepunte minder as in die plaaslikeregeringsverkiesing van 2021. Die DA met 25,2-persent is nasionaal binne vyf punte van die ANC, gevolg deur die MK-party op 14,7-persent. Volgens die meningspeiling loop die DA voor in Johannesburg, Kaapstad en Tshwane, terwyl die MK-party in eThekwini voorloop met 43,4-persent. Vyfduisend-en-een geregistreerde kiesers is by die opname betrek.
# Die Stad Tshwane sê die sake-eenheid vir Energie en Elektrisiteit het aansienlike vordering gemaak om kragvoorsiening na die Waltloo-nywerheidsgebied te herstel, en sowat 90-persent van die betrokke gebiede het weer krag. Dit volg na verlede week se brand by die Waltloo-substasie wat wydverspreide kragonderbrekings veroorsaak het. Die metro se woordvoerder, Lindela Mshigo, sê alle belangrike tegniese werk soos installering van toerusting en kabels, toetsing en ingebruikneming, is afgehandel. Hy sê kragtoevoer word in fases herstel:
# Brasilië se presidentsverkiesing stuur af op ʼn herstemming nadat die regse Flávio Bolsonaro, ʼn bondgenoot van president Donald Trump van Amerika, die eerste rondte gewen het. Die 45-jarige Bolsonaro het 47,24-persent van die stemme gekry en die sittende linkse president, Lula da Silva, 44,91-persent. Nie een kon meer as 50-persent en dus ʼn volstrekte meerderheid behaal nie. Kwessies soos soewereiniteit, misdaad, die ekonomie en korrupsie is vir kiesers belangrik. Lula, wat streef na ʼn vierde termyn, het aan kiesers gesê die keuse lê tussen demokrasie en “barbaarsheid”. Die herstemming tussen die twee kandidate is op 25 Oktober.
# Tennis: Die 24-malige Grand Slam-wenner, Novak Djokovic se poging om die China Ope vir ‘n sewende keer te wen, is steeds op koers nadat hy die eerste-gekeurde Alexander Zverev van Duitsland geklop en die halfeindstryd gehaal het. Die Serwiër spog met ‘n wenrekord van 32-0 in Beijing, die beste ooit by ‘n mansenkelspel-toervlak-toernooi in die Ope-era. Hy speel volgende teen Daniil Medvedev van Rusland. Alex de Minaur van Australië en die Pole Hubert Hurkacz sal in die ander halfeindstryd kragte meet. Djokovic sê dit is die soort oomblikke waarvoor hy steeds speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-722-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-127-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 104-dollar-76-sent per vat.