Nuus 08:00
BULLETIN 5 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n News24/SABI-peiling toon die ANC verloor veld, terwyl die DA in drie metro’s voorloop
# Die liggaam van ‘n 22-jarige vrouestudent van die Universiteit van Limpopo is naby die kampus gevind
# En die VSA onttrek al sy langafstandbomwerpers aan RAF Fairford
# ‘n News24/SABI-meningspeiling toon indien die plaaslikeregeringsverkiesing môre gehou word, sal die ANC steeds die grootste party wees met 31,6-persent. Dit is egter 14-persentasiepunte minder as in die plaaslikeregeringsverkiesing van 2021. Die DA met 25,2-persent is nasionaal binne vyf punte van die ANC, gevolg deur die MK-party op 14,7-persent. Volgens die meningspeiling loop die DA voor in Johannesburg, Kaapstad en Tshwane, terwyl die MK-party in eThekwini voorloop met 43,4-persent. Vyfduisend-en-een geregistreerde kiesers is by die opname betrek.
Intussen het die adjunkminister in die Presidensie, Nonceba Mhlauli, Suid-Afrikaners en veral jongmense aange, om hul demokratiese reg uit te oefen en in die plaaslike regeringsverkiesing in November te stem. Altesaam 142-duisend-en-72 kandidate is benoem om tien-duisend-526 raadsetels in munisipaliteite te betwis. Die Interministeriële Komitee oor Plaaslike Regeringsverkiesings is tevrede met die voorbereidings vir die komende verkiesing. Mhlauli sê jongmense het ‘n belangrike rol te speel om die toekoms van hul gemeenskappe te bepaal:
# Die polisie in Limpopo het ‘n geregtelike doodsondersoek begin nadat die liggaam van ‘n 22-jarige vrouestudent van die Universiteit van Limpopo langs die omheining net buite die kampus in Sovengastraat gevind is. Sy was gedeeltelik geklee en het haar identiteitsdokument en kaart van die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand aan Studente by haar gehad. Die polisiewoordvoerder, Hlulani Mashaba, sê die liggaam is ondersoek en geen sigbare uitwendige beserings is op die toneel waargeneem nie:
# Amerika se lugmag het al sy bomwerpers van RAF Fairford in Gloucestershire verwyder nadat die Britse lugmagbasis verlede maand vermoedelik die teiken van ʼn terreur-aanval was. Vyf Britse burgers is onder verdenking van terrorisme gearresteer, maar is op borgtog vrygelaat. Eerste minister Andy Burnham het verlede week gesê daar is “sterk aanduidings dat Iran ʼn rol gespeel het” in die voorval. Teheran ontken enige betrokkenheid. ʼn Pentagon-amptenaar sê alle Amerikaanse bomwerpers is by hul basisse in Amerika herontplooi.
# Gholf: Adrian Meronk van Pole was vier houe agter, maar het die Suid-Afrikaner, Casey Jarvis, verbygesteek en die Alfred Dunhill Links-kampioenskap in Skotland gewen. Die 33-jarige speler het op vier onder 68 klaargemaak om sy vyfde DP World-toertitel te buit en gereed te wees vir die volgende seisoen. Jarvis, met ʼn laaste rondte van 72, is gelykop tweede saam met die Deen, Niklas Nørgaard. Die wêreld-nommer 979, Michael Stewart van Skotland, is op 16-onder in die vierde plek saam met Tommy Fleetwood van Engeland. Verlede jaar se kampioen, die Skot Robert MacIntyre, is sesde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-70-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-396-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-141-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 104-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….