Nuus 07:00
BULLETIN 5 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC vernuwe homself voor die plaaslikeregeringsverkiesing
# Die Parlement wil ‘n sê hê oor munisipale befondsing
# En rugby: Die Bok-vroue sluit hul Europese toer af met ‘n sewende agtereenvolgende oorwinning oor Spanje
#Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party werk hard om homself te vernuwe en verlore ondersteuning voor die plaaslikeregeringsverkiesing in te haal. Hy het Sondag by ‘n geleentheid by die Evangeliese Presbiteriaanse Kerk in Gonubie in die Oos-Kaap gepraat. Die ANC se aandeel in die nasionale munisipale stemme het van 53,9-persent in 2016 tot 45,59-persent in 2021 gedaal. Mbalula het ook vertroue uitgespreek in hul saak teen die Verkiesingskommissie in die Konstitusionele Hof oor 181 van hul kandidate nie op die stembriewe is nie:
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê alhoewel Suid-Afrika buitelandse kapitaal wil hê, wil hy op tuisgrond prosessering-, vervaardiging- en verwerkingsvermoë bou. Die land het in die tweede kwartaal vanjaar regstreekse invloei van buitelandse beleggings van 49,8-miljard-rand aangeteken. Minister Ntshavheni sê die land se energie-, telekommunikasie- en myn-reëls word deur Suid-Afrikaners volgens die Grondwet gemaak om hul ontwikkeling te dien. Sy sê die land bepaal sy plaaslike beleid volgens die beste belang van sy burgers en gee regverdige marktoegang vir alle vennote.
# Die Parlement werk aan regulasies wat hom inspraak kan gee as die Nasionale Tesourie munisipaliteite se fondse terughou. Die voorsitter van die Portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zweli Mkhize, sê dit volg nadat die Tesourie billike-aandeeltoekennings van 69 munisipaliteite teruggehou het weens beweerde finansiële wanbestuur en die nie-nakoming van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur. Mkhize sê inwoners behoort nie te ly oor die versuim van amptenare nie. Hy sê die voorgestelde regulasies sal vereis dat die Nasionale Tesourie ‘n proses volg waarvolgens die Parlement toekomstige besluite om befondsing terug te hou, kan goedkeur of verwerp.
# Die KwaZulu-Natalse Departement van Vervoer en Menslike Nedersettings sê 38 motoriste is die afgelope naweek in Newcastle vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Woordvoerder Ndabezinhle Sibiya sê 24 is Saterdagaand in hegtenis geneem. Onder diegene wat in hegtenis geneem is, was beroepslui, ‘n student aan die Universiteit van KwaZulu-Natal en ‘n pensioenaris. Een bestuurder is ook betrap terwyl hy ‘n selfoon gebruik het. Sibiya waarsku dat dronkbestuur ‘n mens se denkvermoë, begrip en reaksietyd benadeel, wat die risiko van noodlottige ongelukke op die paaie verhoog:
# Die Russiese leër waarsku hy gaan aanvalle op die Oekraïnse hoofstad, Kiëf, en ander stede verskerp in reaksie op opmerkings wat president Volodymyr Zelensky verlede week gemaak het. ʼn Russiese hommeltuig het gister Kiëf se belangrike Noordelike Brug oor die Dnipro-rivier getref en twee mense is beseer. Dis die vierde agtereenvolgende dag dat Moskou brûe in Kiëf teiken wat deur tienduisende inwoners gebruik word wat tussen die stad se twee rivieroewers pendel. Rusland beheer tans sowat 20-persent van Oekraïne se grondgebied.
# Rugby: Die Springbok-vroue het hulle W15 Global Series-toer in Europa met ʼn oorwinning van 20-0 oor Spanje afgesluit. Teen rustyd in Sevilla was Suid-Afrika met 10-0 voor. Na drie drieë deur Catha Jacobs, Aseza Hele en Jakkie Cilliers in uiters warm weerstoestande, het die span hulle sewende agtereenvolgende oorwinning oor die Spanjaarde behaal. Franzel September, wat die hoofafrigter-pligte met Laurian Johannes-Haupt deel, sê hulle is veral tevrede met die manier waarop hulle die Spaanse span se vloei kon belemmer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-667-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-161-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 104-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….