Nuus 13:00
BULLETIN 4 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola herbevestig Suid-Afrika se verbintenis tot die Afrika-unie se ontwikkeling
# Die polisie bevorder bykans twee-duisend beamptes
# En sokker: Kaartjies vir die MTN8-eindstryd tussen Pirates en Sundowns reeds uitverkoop
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika bly verbind tot die stigtingsvisie van die Ontwikkelingsagentskap van die Afrika-Unie en die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling om ‘n voorspoedige en selfstandige Afrika te bou. Lamola het tydens die AUDA-NEPAD-stigtersberaad in Egipte gesê vrede, veiligheid en menslike ontwikkeling bly kernprioriteite. Hy sê as voorsitter van die Presidensiële Infrastruktuurkampioen-projek bevorder Suid-Afrika streeksinfrastruktuur en handel binne Afrika. Volgens Lamola ondersteun dié projekte ook die ontwikkeling van nywerhede op die vasteland:
# Die Labour-party het ‘n maand voor die plaaslike regeringsverkiesing sy belangrikste verkiesingsbeloftes uiteengesit tydens ‘n verkiesingsbyeenkoms in Mzinti, Nkomazi, in Mpumalanga. Waarnemende sekretaris-generaal, Gift Antonio, sê die party wil betroubare basiese dienste soos water, sanitasie, elektrisiteit en vullisverwydering herstel en werksgeleenthede skep. Hy sê die party stel veiliger woonbuurte voor deur straatligte in ‘n werkende toestand te hou en meer patrollies te doen. Antonio sê plaaslike regering moet professioneel bestuur word deur vaardighede en bekwaamheid voorop te stel, nie politieke aanstellings nie:
Intussen is die Vryheidsfront Plus se veldtog in die aanloop tot die plaaslike verkiesing gefokus op die verbetering van swak dienslewering op plaaslike regeringsvlak. Die partyleier, Corné Mulder, sê gemeenskappe is gefrustreerd oor ontoereikende dienste, korrupsie en wat hy as onbevoegdheid beskryf. Mulder het in Bloemfontein gesê die party stel homself voor as ‘n alternatief vir inwoners wat verandering soek. Hy sê die groeiende steun vir die party weerspieël dat mense kies om by ‘n politieke beweging aan te sluit op grond van sy beleid en beginsels.
En die EFF-leier, Julius Malema het tydens die party se provinsiale manifesgeleentheid in Motherwell, Gqeberha in die Oos-Kaap gesê Eskom behoort genoeg inkomste te genereer om sy bedrywighede in stand te hou, eerder as om wins te maak. Malema het aangevoer elektrisiteit is ‘n basiese reg en behoort meer bekostigbaar te wees. Hy het kritiek uitgespreek oor die hoë elektrisiteitskoste vir arm huishoudings en Eskom daarvan beskuldig dat hy plase en nywerhede bevoordeel wat gekoppel is aan wat hy, white monopoly capital, noem:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het een-duisend-965 beamptes bevorder tot hoër range. Die SAPD sê dit is die eerste bevorderings van sowat drie-duisend wat in die huidige boekjaar beplan word, met ‘n tweede groep wat na verwagting teen 1 November aangekondig sal word. Beamptes wat bevorder is sluit in, 201 kolonels, 622 luitenant-kolonels, 899 kapteins en 243 adjudant-offisiere. Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, sê die bevorderings gee erkenning aan goeie prestasie en ondervinding en versterk leierskap, motivering en dienslewering. Sy sê dit is ‘n belangrike belegging in die ontwikkeling van ‘n gemotiveerde en prestasiegedrewe polisiediens.
# En sokker: Kaartjies vir die 2026 MTN8-eindstryd tussen Orlando Pirates en Mamelodi Sundowns is amptelik uitverkoop. Die eindstryd vind volgende Saterdag op die Moses Mabhida-stadion plaas en die hekke open om twee-uur die middag. Die Premier-sokkerliga sê ondersteuners moet hul kaartjies op hul selfone aflaai, aangesien skermgrepe en gedrukte kaartjies nie aanvaar sal word nie. Geen kaartjies word op die stadion verkoop nie. Pirates mik na ‘n vyfde agtereenvolgende MTN8-titel en hierdie is die klub se 21ste verskyning in die kompetisie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….