Nuus 11:00
BULLETIN 3 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement gaan DIRCO uitvra oor ‘n diplomatieke stap teen Bozell
# Gholf: Cole Stevens neem die voortou in die derde ronde van die Limpopo-kampioenskap
# En: Giftige stowwe is aangetref in byna alle katkos wat getoets is
# Parlement se Portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê hy gaan DIRCO vra om die omstandighede rondom die derde demarche binne nege maande teen die Amerikaanse ambassadeur, Leo Brent Bozell, te verduidelik. Die komitee se voorsitter, Mosa Chabane, sê Suid-Afrika se soewereiniteit moet gerespekteer word. Die komitee beklemtoon diplomate word verplig om die wette van hul gasheerland te respekteer. Chabane sê respek vir soewereiniteit en die regbank moet te alle tye gehandhaaf word. Hy vra alle buitelandse diplomatieke verteenwoordigers wat in Suid-Afrika geakkrediteer is om die hoogste standaarde van diplomatieke gedrag te bevorder.
# Die hoof van die Afrika-kommissie vir Mense- en Volkeregte, Solomon Ayele Dersso, sê Suid-Afrika het die reg om sy immigrasiewette toe te pas, terwyl die regte van ongedokumenteerde migrante beskerm word. Dersso het in Pretoria gepraat nadat ‘n afvaardiging sy vyf-dae-lange bevorderingsending na Suid-Afrika afgehandel het. Hy sê die feit dat iemand nie oor die nodige dokumentasie beskik nie, ontneem daardie persoon nie van sy of haar menseregte nie. Dersso het ook gevra vir streeksamewerking om georganiseerde misdaad en korrupsie in grensbestuurstelsels hok te slaan:
# Die Johannesburgse Metropolisie het ‘n vlaag aanvalle op sy personeel veroordeel. ‘n Verkeersbeampte, Reagan Joseph, is Donderdag doodgeskiet toe hy en twee kinders in sy privaat voertuig was. Een van die kinders is beseer en in die hospitaal opgeneem. Woordvoerder Xolani Fihla, sê dit is die derde aanval binne ‘n week. In die ander voorvalle is ‘n veiligheidsbeampte gekaap en vermoor, en nog ‘n beampte is gekaap en geskiet. Fihla bevestig die ondersoeke duur voort:
# Tygerberg-hospitaal vier sy 50ste bestaansjaar met die herdenking van vyf dekades van gespesialiseerde gesondheidsorg in die Wes-Kaap. Sedert sy opening in 1976 het die hospitaal pasiënte met ingewikkelde mediese toestande behandel en geslagte gesondheidsorgwerkers opgelei. Die hospitaal was ook betrokke by belangrike mediese deurbrake, waaronder Suid-Afrika se eerste vierling wat deur middel van in-vitro-bevrugting in 1986 verwek is en die wêreld se eerste suksesvolle penisoorplanting in 2014. Die hospitaal sê sy beplande herontwikkeling sal help om gespesialiseerde sorg, opleiding en mediese navorsing vir toekomstige geslagte te versterk.
# Gholf: Die nuweling op die Sonskyn-toer, Cole Stevens van Suid-Afrika, het ‘n voorsprong van drie houe geneem in vandag se derde ronde van die Limpopo-kampioenskap op die Euphoria Gholf- en Leefstyl-landgoed. Stevens het ‘n brouhou-vrye ronde van ses onder baansyfer 65 aangeteken om tot op 12 onder baansyfer te vorder. Jacques Blaauw is tweede op nege onder baansyfer ná 69, met die Fransman Pierre Viallaneix derde op agt onder baansyfer nadat hy 65 aangeteken het. Ethan Smith, Tyran Snyders, Kyle Barker en Oliver Goldhill deel die vierde plek op ses onder baansyfer. Die toernooi eindig môre.
# En ten slotte: Byna alle katkos wat in ‘n nuwe ondersoek getoets is, het giftige stowwe bevat, insluitend chemikalieë wat in plastiek voorkom, die onkruiddoder glifosaat en swaarmetale soos lood, kwik en arseen. Die ondersoek, deur die Clean Label Project, het bevind katte kan deur hul leeftyd blootgestel word aan hiedie stowwe want hulle eet dikwels elke dag dieselfde kos. Navorsers waarsku dit kan mettertyd in katte se liggame opbou. Dit is kommerwekkend omdat swaarmetale hul niere kan beskadig met chroniese nierversaking as een van die algemeenste ernstige siektes onder ouer katte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….