Nuus 14:00
BULLETIN 2 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Hof magtig ‘n lasbrief vir die inhegtenisneming van Nosiviwe Mapisa-Nqakula
# OKOSA trek sy ondersoek na Netflix en WhatsApp terug
# En tennis: Die WTA kondig belangrike veranderings vir die 2027-seisoen aan
# Die Hooggeregshof in Pretoria het ‘n lasbrief gemagtig vir die inhegtenisneming van die oudminister van Verdediging en voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, nadat sy nie opgedaag het vir haar korrupsie- en geldwassery-saak nie. Haar regsverteenwoordigers sê sy is steeds ongesteld, maar geen mediese sertifikaat is voorgelê nie. Mapisa-Nqakula word daarvan beskuldig dat sy tussen 2016 en 2019 die kontrakteur Nombasa Ntsondwa-Ndlovu vir korrupte betalings gevra het. Die lasbrief word opgeskort tot haar volgende hofverskyning op 11 November.
# Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid het sy beplande markondersoek na Netflix en WhatsApp teruggetrek. Dit was bedoel om hul uitwerking op telekommunikasie- en uitsaainetwerke te evalueer, insluitend voorstelle dat groot platforms tot netwerk-infrastruktuurkoste bydra. OKOSA het ‘n proses in vier fases beplan wat voorleggings deur die bedryf, openbare kommentaar en verhore sou insluit. Die reguleerder sê die terugtrekking sal hom in staat stel om aandag te skenk aan administratiewe en prosedurele aangeleenthede.
# Thembisile Xulu is die Departement van Gesondheid se nuwe direkteur-generaal. Sy het die pos amptelik aanvaar nadat die kabinet haar in Augustus aangestel het. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê Xulu is ‘n gekwalifiseerde dokter en het voorheen as uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad gedien. Hy sê sy was langer as 15 jaar in senior leierskaprolle in die Right to Care-groep:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se hoëkommissaris vir Menseregte, Volker Türk, waarsku vroue en meisies ly steeds buitensporige skade en word dikwels uitgesluit van besluite wat hul veiligheid raak. In 2024 het bykans 676-miljoen vroue en meisies binne 50 kilometer van konflikgebiede gewoon. Dit is die hoogste syfer sedert die einde van die Koue Oorlog. Türk sê die oorgrote meerderheid slagoffers van konflikverwante verkragting, mensehandel en seksuele slawerny is vroue en blywende vrede kan nie gehandhaaf word in samelewings gekenmerk deur diskriminasie en onderdrukking nie.
# Tennis: Die Vroue-tennisvereniging sê die prysgeld van alle gesamentlike Een-duisend toernooie sal vanaf 2027 dieselfde vir vroue- en manspelers wees. Dit bring die Kanadese Ope, Cincinnati Ope en Italiaanse Ope op dieselfde vlak as ander gesamentlike Een-duisend-toernooie. Die WTA se voorsitter, Valerie Camillo, sê die organisasie verminder ook vanaf volgende jaar die aantal toernooie waaraan die voorste spelers verplig is om deel te neem, ná kritiek oor die oorvol skedule:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-302-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-173-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….