Nuus 13:00
BULLETIN 8 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof verbied Malema en EFF-topleiers om die Staatsrede by te woon
# Santaco verseker pendelaars die brandstofprys-stygings sal nie taxi-tariewe beïnvloed nie
# En, Sokker: Broos trots op dapper Bafana
# Die EFF-leier, Julius Malema en die party se topleierskap het nog ‘n terugslag beleef toe die Wes-Kaapse Hooggeregshof hul aansoek teen hul skorsing vir die bywoning van die Staatsrede verwerp het. Malema, die party se adjunkpresident, Floyd Shivambu, die sekretaris-generaal Marshall Dlamini, senior lede Vuyani Pambo en Mbuyiseni Ndlozi, en die partywoordvoerder Sinawo Tambo sal nie daar wees wanneer president Cyril Ramaphosa die nasie toespreek nie. Die EFF-leiers is skuldig bevind aan minagting van die Parlement nadat hulle tydens verlede jaar se Staatsrede die verhoog bestorm het.
# Die taxiraad Santaco het pendelaars verseker hierdie week se styging in brandstofpryse sal nie tot onmiddellike verhogings in taxi-tariewe lei nie. Die Departement van Energie se aankondiging oor beduidende brandstofprysverhogings het kommer uitgelok. Santaco se woordvoerder, Rebecca Phala, sê hul tarief-aanwyser-beleid skryf ‘n jaarlikse aanpassing voor. Volgens Phala is die raad daartoe verbind om vervoer vir gewone burgers bekostigbaar te hou, met moontlike roetespesifieke tarief-evaluerings indien die situasie vererger.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie doen ‘n beroep op kopers wat grondboontjiebotter by Pick n Pay gekoop het om enige gesondheidskwessies aan te meld. Dit volg nadat die winkelgroep drie handelsmerke grondboontjiebotter herroep het weens kommer oor gesondheid en veiligheid. Na ‘n paar toetse is gevind hierdie produkte het hoër as gereguleerde vlakke van Aflatoksien. ‘n Woordvoerder van die kommissie, Prudence Moilwa, het aan eNCA gesê dit kan ‘n gesondheidsrisiko inhou vir diegene wat groot hoeveelhede van die produk ingeneem het:
# Sokker: Bafana Bafana se veldtog vir kontinentale glorie het gisteraand in die halfeindstryd van die Afrikabeker geëindig, toe hulle met strafdoele deur Nigerië geklop is. Die wedstryd het ná ekstra tyd een-elk geëindig, waarna die Nigeriese doelwagter, Stanley Nwabali, twee strafskoppe gekeer het en Nigerië deurgedring het na die eindstryd. Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê Bafana het Suid-Afrikaanse sokker weer in die kollig geplaas:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-668-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-30-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….