Nuus 12:00
BULLETIN 2 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Soil of Africa-beweging vra meer aanspreeklikheid van die polisie
# Netanyahu onthul die Flydubai-aanvaller het ‘n geskiedenis van Islamitiese radikalisering
# En krieket: Die Wanderers is in 2027 gasheer vir die eindstryd van die eendag-Wêreldbekertoernooi
# Die Soil of Africa-beweging vra meer aanspreeklikheid in die polisie nadat die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat in 2025/26 altesaam vyf-duisend-259 beweerde gevalle van wangedrag aangeteken het. Dit sluit 332 gevalle van geslagsgeweld en vrouemoord in. Die beweging sê OPOD se onafhanklikheid moet beskerm en sy hulpbronne versterk word om deeglike ondersoeke te verseker, veral ná bewerings van verkragting, seksuele geweld en ander ernstige oortredings teen polisielede. Volgens die beweging beklemtoon die omvang en aard van die sake die noodsaaklikheid van doeltreffende toesig, deursigtige ondersoeke en gepaste stappe teen oortreders.
Intussen eis Forum for South Africa strenger toesig en vinniger optrede teen polisiebeamptes wat van wangedrag beskuldig word. Die organisasie se leier, Tebogo Mashilompane, sê daar is 116 bewerings van verkragting teen polisiebeamptes, waarvan 72 is terwyl hulle aan diens was. Hy sê beamptes moet aan die hoogste standaarde van die wet voldoen:
Nuus uit die buiteland:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê voorlopige ondersoeke dui aan die man wat sy medevlieënier op ‘n Flydubai-vlug aangeval het, is radikaal beïnvloed deur Islamisme. Hy het Woensdag probeer om die vliegtuig te laat neerstort onderweg van Dubai na Israel. Die gewonde kaptein kon die stuurkajuit se deur oopmaak, waarop passasiers en reserwe-personeel die aanvaller kon oorrompel voor die vliegtuig veilig in Saoedi-Arabië geland het. Netanyahu sê die aanvaller, ʼn burger van Oman, het selfmoordneigings gehad, maar die finale uitslag sal eers later bekendgemaak word.
# Amnestie Internasionaal in Amerika sê Christa Pike se mislukte teregstelling bewys weereens dat die doodstraf wreed, onmenslik en vernederend is. Sy is in 1995 ter dood veroordeel weens moord, en het Woensdagaand twee dodelike inspuitings oorleef. Pike sou die eerste vrou in meer as 200-jaar wees wat in Tennessee tereggestel word. Woordvoerder Justin Mazzola het aan Reuters gesê dis die tweede keer in minder as vyf maande dat ʼn teregstelling in die staat misluk:
# Krieket: Die Wanderers in Johannesburg sal op 21 November volgende jaar, soos in 2003, die eindstryd van die eendag-Wêreldbekertoernooi aanbied. Indië en die verdedigende kampioen, Australië, speel op 7 Oktober in die openingswedstryd op Nuweland in Kaapstad, waar die eerste halfeindstryd ook sal plaasvind, en die tweede in Centurion. Die toernooi vind plaas in twaalf plekke in Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië. In Suid-Afrika sal wedstryde ook gespeel word in die Paarl, Bloemfontein, Durban, KuGompo City en Gqeberha. Ander gasheerstede en dorpe sluit in Harare, Bulawayo en Windhoek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-305-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-191-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….