Nuus 11:00
BULLETIN 2 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Organisasie teken ‘n skerp toename aan in politieke sluipmoorde in Suid-Afrika
# Amnestie Internasionaal sê die mislukte teregstelling van Christa Pike is ‘n uiterste vorm van wreedheid
# En krieket: Die Wanderers is in 2027 gasheer vir die eindstryd van die eendag-Wêreldbekertoernooi
# Die Globale Veldtog teen Transnasionale Georganiseerde Misdaad sê as politieke sluipmoorde geïgnoreer word, verskraal dit demokratiese keuse, benadeel plaaslike regering en laat misdadigers toe om te besluit wie die mag het. Twee-en-veertig mense is reeds vanjaar dood in vermeende politieke sluipmoorde in Suid-Afrika in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing – die meeste in KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap, Gauteng en die Oos-Kaap. Volgens die organisasie vind die moorde plaas in belangrike verkiesing-mobiliseringspunte, takvergaderings, kandidaatverkiesings en kieserregistrasie-veldtogte.
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê terwyl geopolitieke druk kostes vir huishoudings opjaag, bevorder die regering ‘n geïntegreerde vervoerstelsel wat ontwerp is om openbare vervoer veiliger en meer bekostigbaar te maak. Oktober is Vervoer-maand. Creecy sê haar departement is besig om die openbare vervoer-toelaagstelsel te verander na ʼn verenigde ondersteuningsmodel wat op sekere roetes vir bus- en taxi-operateurs beskikbaar is. Sy sê hulle beveg ook misdaad en intimidasie in die sektor:
# Die Stad Tshwane se Sake-eenheid vir Energie en Elektrisiteit sê die noodsaaklike kragoordrag en tussen-verbindingsproses is 95-persent afgehandel. Dit volg na ʼn ontploffing by die Waltloo-substasie wat ʼn transformator by die Njala-toevoersubstasie beskadig het. Dinsdag se voorval het dele van die metro sonder krag gelaat. Woordvoerder Selby Bokaba sê tegniese spanne hou die oordrag dop en bestuur dit om die netwerk bestendig te hou:
Nuus uit die buiteland:
# Amnestie Internasionaal in Amerika sê Christa Pike se mislukte teregstelling bewys weereens dat die doodstraf wreed, onmenslik en vernederend is. Sy is in 1995 ter dood veroordeel weens moord, en het Woensdagaand twee dodelike inspuitings oorleef. Pike sou die eerste vrou in meer as 200-jaar wees wat in Tennessee tereggestel word. Woordvoerder Justin Mazzola het aan Reuters gesê dis die tweede keer in minder as vyf maande dat ʼn teregstelling in die staat misluk:
# Krieket: Die Wanderers in Johannesburg sal op 21 November volgende jaar, soos in 2003, die eindstryd van die eendag-Wêreldbekertoernooi aanbied. Indië en die verdedigende kampioen, Australië, speel op 7 Oktober in die openingswedstryd op Nuweland in Kaapstad, waar die eerste halfeindstryd ook sal plaasvind, en die tweede in Centurion. Die toernooi vind plaas in twaalf plekke in Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië. In Suid-Afrika sal wedstryde ook gespeel word in die Paarl, Bloemfontein, Durban, KuGompo City en Gqeberha. Ander gasheerstede en dorpe sluit in Harare, Bulawayo en Windhoek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-988-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-180-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….