Nuus 08:00
BULLETIN 2 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Oxfam SA bevind die land se rykste miljardêr besit meer as die armste 70-persent van die bevolking saam
# Minister Pule vra vir beter koördinering vir die beskerming van kinders
# En Donald Trump waarsku die oorlog met Iran kan die Republikeine stemme kos
# Suid-Afrika se enkele rykste miljardêr besit meer rykdom as die armste 70-persent van die bevolking saam. Dit is volgens ‘n nuwe verslag van Oxfam South Africa. Dit het bevind die rykste een-persent landsburgers het 54,9-persent van die land se rykdom in 2024 besit, terwyl die onderste helfte van die bevolking negatiewe rykdom het. Oxfam SA se waarnemende uitvoerende direkteur, Pooven Moodley, het aan die SABC gesê die land het nie ʼn ongelykheid-probleem omdat daar nie genoeg rykdom is nie, maar oor wie die rykdom besit:
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, het het gevra vir gesamentlike optrede om kinders teen geweld, mishandeling en uitbuiting te beskerm. Sy het gister in Witrivier die Kinderberaad oor die beëindiging van geweld teen kinders toegespreek. Pule het beklemtoon hoe belangrik dit is dat kinders se stemme gehoor word om seker te maak hul belange kry voorkeur deur toewyding en verantwoordelike prosesse. Die minister het beklemtoon beter samewerking tussen die regering, opvoeders, die gemeenskap en tradisionele en godsdienstige leiers is nodig om voorkoming te versnel en ondersteuning te versterk van kinders wat deur geweld geraak word.
# Die polisie se politieke-moordetaakspan het die Knysna-munisipaliteit in die Wes-Kaap se burgemeester, munisipale bestuurder en finansiële hoof gearresteer. Dit hou verband met ʼn ondersoek na beweerde korrupsie met ʼn veiligheidsdienskontrak. Hoewel die polisie nie die munisipaliteit of amptenare se name bekendgemaak het nie, het die munisipaliteit die inhegtenisnemings in ʼn verklaring bevestig. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê hulle staar aanklagte van korrupsie in die gesig en sal na verwagting Maandag in die hof verskyn:
# President Donald Trump van Amerika erken dat die sewe maande lange oorlog teen Iran die Republikeinse Party se kanse in die November-middeltermyn-verkiesing kan belemmer. Hy het voorheen gewaarsku Teheran wil nie voor die verkiesing ʼn ooreenkoms bereik nie. Iran het onlangs ʼn skietstilstand van sewe dae voorgestel, en dat die Straat van Hormoes in fases heropen word. Amerika het ʼn teenaanbod gemaak wat Iran tans oorweeg. Trump het by ʼn Peterbilt-fabriek in Denton, Texas, gesê hulle sal die oorlog wen:
# Rugby: Die Haaie het met die terugkeer van Springbok-spelers ʼn hupstoot gekry vir môre se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen die heersende kampioene, Leinster, in Durban. Andre Esterhuizen voer die span aan, en Thomas du Toit en Edwill van der Merwe keer terug na die beginspan. Ox Nche, Eben Etzebeth en Ethan Hooker is op die bank. Die Leeus spog met die terugkeer van die Springbokke, Morné van den Berg en Quan Horn, terwyl Ethan Adams die buitesenter, Henco van Wyk, vervang. Die Leeus en Ospreys takel mekaar môre op Ellispark.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-232-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-172-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….