Nuus 16:00
BULLETIN 1 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beskermer vind geen fout met die Moloto-spoorstudies van 46-miljoen-rand nie
# Borgtog van 15-duisend-rand is aan die Zimbabwiese sakeman Lawrence Mudzinganyama toegestaan
# En krieket: Honderd-56 spelers is te koop op die veiling vir SA20 se vyfde seisoen
# Openbare Beskermer Kholeka Gcaleka vind geen fout met die regering se besteding van 46-miljoen-rand aan twee uitvoerbaarheidstudies vir die voorgestelde Moloto-spoordeurgang wat Mpumalanga en Limpopo met Tshwane sou verbind nie. Daar is bevind die twee studies het verskillende doelwitte. Die eerste studie in 2007 het 30-miljoen-rand gekos en die tweede in 2012, 16-miljoen-rand. Gcaleka sê die projek is laat vaar weens bekostigbaarheidskwessies en kommer vanaf die Tesourie, en nie wanadministrasie nie:
# Die Randburgse Landdroshof in Gauteng het die Zimbabwiese sakeman en voormalige voorsitter en direkteur van die Moriel-infrastruktuurgroep, Lawrence Mudzinganyama, borgtog van 15-duisend-rand toegestaan. Hy staan tereg op tien aanklagte, insluitend intimidasie, aanranding met die doel om ernstig te beseer, crimen injuria en bedrog ná ‘n voorval in ‘n restaurant in Sandton, Johannesburg. Hy het na bewering ‘n vroue-badkamer binnegegaan en drie getuies gedreig. Mudzinganyama moet weekliks by die polisie aanmeld, sy reisdokumente inhandig en aanbly in Gauteng. Die saak hervat op 15 Oktober.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik verwelkom Eskom se besluit om sy kwytskelding van registrasiekoste vir klein sonkragstelsels van tot 50 kilovoltampère tot verdere kennisgewing te verleng. Die organisasie sê Eskom dring egter steeds aan dat registrasie verpligtend is, selfs vir veilige huishoudelike stelsels wat nie krag na die netwerk invoer nie. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, stem saam stelsels wat elektrisiteit uitvoer moet aan goedkeurings-, metings- en verbindingsvereistes voldoen:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het planne aangekondig waarvolgens Suid-Korea 3,3-duisend-miljard-rand in Amerikaanse projekte sal belê, insluitend agt kernreaktors en ‘n gasgedrewe kragsentrale in Texas. Seoul sê ‘n voorgestelde pypleiding vir aardgas in Alaska is nog nie bevestig nie en moet eers aan handels- en regs-evaluering voldoen. Die belegging vorm deel van ‘n groter pakket van 5,8-duisend-miljard-rand waaroor daar in ‘n handelsgenootskap tussen Washington en Seoul ooreengekom is. Trump sê die beleggings sal Amerika se energieproduksie versterk, terwyl Suid-Korea beklemtoon dat individuele projekte kommersieel moet sin maak.
# Krieket: Die ervare plaaslike spelers Faf du Plessis, Rassie van der Dussen en Wiaan Mulder is beskikbaar op volgende week se veiling vir SA20 se vyfde seisoen. Honderd-56 spelers is op die kortlys nadat 789 aansoeke ontvang is. Vyf-en-negentig Suid-Afrikaners en 61 oorsese spelers is beskikbaar vir vier spanne. Durban’s Super Giants en Paarl Royals het reeds hulle groepe van 19 afgehandel en neem nie deel nie. Dewald Brevis het verlede jaar die rekord oortref vir die hoogste prys toe Pretoria Capitals hom vir 16,5-miljoen-rand gekoop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-898-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-178-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….