Nuus 13:00
BULLETIN 1 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Binnelandse Sake beoog ‘n veldtog om alle ongedokumenteerde burgers te registreer
# Die Europese Unie prys Namibië se vinnige optrede ná die uitbreking van bek-en-klouseer
# En die terdoodveroordeelde Christa Pike oorleef twee dodelike inspuitings
# Die Departement van Binnelandse Sake berei ‘n landwye veldtog voor om elke Suid-Afrikaanse burger sonder ‘n identiteitsdokument in die 2028/29-boekjaar te dokumenteer. Minister Leon Schreiber het op die bekendstelling van die Quantum Leap-vernuwingsprojek in Johannesburg gesê die digitale hervormings sal laat geboorteregistrasies en dokumentasie-prosesse hersien en mobiele biometriese tegnologie inspan. Hy sê die doelwit is om teen einde 2029 seker te maak alle Suid-Afrikaanse burgers is behoorlik gedokumenteer:
# Die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA verwerp bewerings dat enige geld wat in ‘n begunstigde se bankrekening ontvang word, lei tot die beëindiging van ‘n toelaag. Woordvoerder Andile Tshona sê begunstigdes moet aan die wettige vereistes voldoen en, indien nodig, die inkomste- en batetoets slaag om te kwalifiseer. Hy voeg by ‘n hersiening van ‘n toelaag beteken ook nie noodwendig dit word opgeskort of beëindig nie.
# Die Europese Unie se Gesondheids- en Voedselveiligheidsdienste het die Namibiese regering geprys vir sy vinnige, deursigtige en doelgerigte optrede ná die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer. Die regering het verlede week beheermaatreëls ingestel, insluitend die opskorting van in- en uitvoere van gesplete hoefdiere. Die EU se ambassadeur in Namibië, Ana Beatriz Martins, sê die uitbreking het kommer laat ontstaan oor die land se toegang tot belangrike internasionale beesvleismarkte:
# Rugby: Die flank Sam Underhill gaan Engeland se Nasieskampioenskap-wedstryde in November weens ‘n besering misloop. Hy het ‘n bo-armspier geskeur terwyl hy vir Bath teen Harlequins gespeel het en moet ‘n operasie ondergaan wat hom vir tot vier maande van die veld kan hou. Bath se hoof van rugby, Johan van Graan, sê hy het onmiddellik besef dat Underhill se besering ernstig is. Die 30-jarige het sedert sy buiging in 2017 reeds 50 toetse vir Engeland gespeel en 25 punte aangeteken. Engeland speel in November teen Australië, Japan en Nieu-Seeland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-710-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-160-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-11-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Dodesel-inwoner van Tennessee, Christa Pike, is in die hospitaal nadat gisteraand se teregstelling in Nashville misluk het. Die 50-jarige is in 1996 ter dood veroordeel vir die moord op die 19-jarige Colleen Slemmer. Sy sou die eerste vrou in meer as 200-jaar wees om in Tennessee tereggestel te word. WPLN se verslaggewer, Catherine Sweeney, wat die geleentheid bygewoon het, sê Pike het steeds kliphard gesnork na twee dosisse:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….