Nuus 12:00
BULLETIN 1 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die terdoodveroordeelde Christa Pike oorleef twee dodelike inspuitings
# OPOD teken meer as vyf-duisend gevalle van polisie-wangedrag aan
# En WhatsApp stel nuwe ouerbeheerfunksies vir tienerrekeninge bekend
# ‘n Dodesel-inwoner van Tennessee, Christa Pike, is in die hospitaal nadat gisteraand se teregstelling in Nashville misluk het. Die 50-jarige is in 1996 ter dood veroordeel vir die moord op die 19-jarige Colleen Slemmer. Sy sou die eerste vrou in meer as 200-jaar wees om in Tennessee tereggestel te word. WPLN se verslaggewer, Catherine Sweeney, wat die geleentheid bygewoon het, sê Pike het steeds kliphard gesnork na twee dosisse:
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het in die 2025/26-verslagperiode vyf-duisend-259 gevalle aangeteken. Die vernaamste gevalle van wangedrag onder polisielede was steeds aanranding en marteling, waarvan drie-duisend-468 geregistreer is. Daar was 669 voorvalle waar ‘n amptelike vuurwapen afgevuur is en 464 sterftes weens polisie-optrede. Die meeste gevalle is in die Wes-Kaap en Gauteng aangemeld. OPOD se woordvoerder, Lizzy Suping, sê 332 was gevalle van geslagsgeweld en vrouemoord, en 116 van verkragting:
# Die leier van die EFF, Julius Malema, is heftig gekant teen die ontbinding van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie. Politieke partye in die ad hoc-komitee wat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings ondersoek, is verdeeld oor die saak. Die komitee beraadslaag steeds oor sy langverwagte voorlopige verslag. Die DA sê die direktoraat moet ontbind en met ʼn onafhanklike instelling buite die Nasionale Vervolgingsgesag vervang word. Malema sê groter oorsig is nodig:
# Sokker: Manchester City se hoofborg, die Etihad-lugredery van Abu Dhabi, oorweeg regstappe teen die Engelse Premierliga. City is skuldig bevind aan al die aanklagte in verband met die verbreking van die liga se finansiële reëls tussen 2009 en 2018. ‘n Onafhanklike kommissie het bevind die klub het vals kontrakte met verskeie van sy handelsvennote aangegaan as deel van ‘n versteekte befondsingstelsel om die klub se inkomste kunsmatig op te stoot. Die redery verwerp aantygings dat daar ooit onbehoorlike kommersiële ooreenkomste was.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-311-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-156-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: WhatsApp het nuwe beheerfunksies bekendgestel wat ouers groter beheer gee oor hoe tieners die boodskapplatform gebruik en kommer oor privaatheid-skending uit die weg ruim. Die nuwe, opsionele hulpmiddels stel ouers in staat om verskeie privaatheids-instellings op tieners se rekening te bestuur, insluitend wie hul profielfoto kan sien, wie hulle by groepe kan voeg en hoe hulle WhatsApp-kanale en statusfunksies gebruik. Ouers kan ook kies watter status-bywerkings hul tiener kan sien en wie die tiener se eie bywerkings kan sien. Die ouer beheer die funksies met ‘n PIN.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….