Nuus 11:00
BULLETIN 1 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie kritiseer die DA se hofsaak oor lyste vir proporsionele verteenwoordiging
# Netanyahu sê dis te gou om te weet of Iran betrokke was by ‘n poging tot die kaping van ‘n vliegtuig van Flydubai
# En sokker: Manchester City se hoofborg oorweeg regstappe teen die Premierliga
# Die Verkiesingskommissie sê die DA se hofsaak oor proporsionele verteenwoordigingslyste is sonder meriete. Die DA het die Kieshof genader en beskuldig die EFF, MK-party, ActionSA en die GOOD-party dat hulle kiesers probeer mislei deur nie ‘n volledige lys kandidate bekend te maak nie. Hierdie partye het in sommige munisipaliteite slegs een proporsionele kandidaat. Die DA eis dat die vier partye se lyste onwettig verklaar word. Die OVK sê die verligting wat die DA soek, sal die plaaslike regeringsverkiesing se integriteit in gedrang bring.
# AfriForum sê die hersiene elektrisiteits-prysbeleid moet duidelike gevolge hê vir die energiereguleerder, Eskom en munisipaliteite wat versuim om reëls na te kom. Hy is bekommerd oor moontlike geskiedkundige kostes, munisipale bybetalings en vaste elektrisiteitskoste, en waarsku verbruikers kan bykomende koste ondervind. AfriForum sê die nuwe beleid kan misluk sonder behoorlike afdwinging en deursigtigheid. Woordvoerder Morné Mostert sê alle elektrisiteitskoste moet deursigtig wees, en duidelik verduidelik en geregverdig word:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê kunsmatige intelligensie kan Suid-Afrika se arbeidsmark hervorm sonder om grootskaalse afleggings te veroorsaak. Die aanvanklike uitwerking sal eerder werwing vertraag, wat dit moeiliker sal maak vir jongmense om hul eerste aanstelling te kry. Hoewel kunsmatige intelligensie die vraag in sekere professionele sektore kan laat afneem, sê die buro dit sal produktiwiteit verhoog en nuwe geleenthede ontsluit. Om die verskuiwing te hanteer, vra hy Suid-Afrika om aggressief op vaardigheidsontwikkeling en opleiding te fokus ten einde jong werksoekers te help om die formele arbeidsmag te betree.
Nuus uit die buiteland:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê dis nog nie seker of Iran betrokke was by gister se Flydubai-gebeure nie. ‘n Medevlieënier op ‘n vlug na Tel Aviv het die vlieënier met ‘n mes gesteek in ‘n klaarblyklike poging om die vliegtuig te laat neerstort. Passasiers en bemanningslede het hom oorrompel en twee ander vlieëniers aan boord het in Saoedi-Arabië geland. Netanyahu sê daar word ondersoek of dit ‘n terroriste-aanval was:
# Sokker: Manchester City se hoofborg, die Etihad-lugredery van Abu Dhabi, oorweeg regstappe teen die Engelse Premierliga. City is skuldig bevind aan al die aanklagte in verband met die verbreking van die liga se finansiële reëls tussen 2009 en 2018. ‘n Onafhanklike kommissie het bevind die klub het vals kontrakte met verskeie van sy handelsvennote aangegaan as deel van ‘n versteekte befondsingstelsel om die klub se inkomste kunsmatig op te stoot. Die redery verwerp aantygings dat daar ooit onbehoorlike kommersiële ooreenkomste was.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-74-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-179-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….