Nuus 07:00
BULLETIN 1 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Mhlauli sê jongmense het werklike geleenthede in die ekonomie nodig
# Luidens ‘n ondersoek is byna duisend kinders deur Katolieke geestelikes in die VSA seksueel mishandel
# En krieket: Australië wen die derde en laaste eendagwedstryd teen Suid-Afrika
# Die adjunkminister in die Presidensie, Nonceba Mhlauli, sê die Presidensiële Jeug-indiensnemingsingryping kan nie slegs werkloosheid aanspreek nie. Sy sê die omvang en ingewikkeldheid van die uitdaging vereis voortgesette samewerking tussen die regering, sakesektor, burgerlike samelewing, onderwysinstellings en ander vennote. In die eerste kwartaal van die 2026/2027-boekjaar het die Indiensnemingsingryping 139-duisend-693 geleenthede vir jongmense deur die Nasionale Roetebestuursnetwerk verseker. Mhlauli sê jongmense het werklike geleenthede in die ekonomie nodig wat toeganklik en relevant is:
# Die DA vra ‘n volledige, bewys-gebaseerde herontwerp van Suid-Afrika se parool- en gemeenskapsdiens-stelsel. Landwyd is 35-persent van alle paroolraadposte vakant. Dit sluit in 41 posisies vir gemeenskapslede, 17 voorsitters en 15 ondervoorsitters. In streke soos Limpopo, Mpumalanga en Noordwes is 19 van 24 poste nie gevul nie. Janho Engelbrecht van die DA sê betekenisvolle hervorming word vertraag deur die Departement van Korrektiewe Dienste se eie interne administratiewe tekortkominge en hindernisse deur ander staatsdepartemente en onafhanklike staatsinstellings:
# Die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, is vrygespreek in die strafregtelike saak wat verband hou met die Absa-Bankorp-kwessie. Dit volg na die Staat se terugtrekking van die aanvanklike en hoofaanklag van meineed teen haar. Die saak handel oor bewerings dat Mkhwebane onder eed gelieg het oor die aantal kere wat sy met oudpresident Jacob Zuma vergader het tydens haar ondersoek van die apartheid-era Bankorp-reddingsboei. Die Busisiwe Mkhwebane Stigting beskryf die onskuldigbevinding as betekenisvol vir Mkhwebane, wat volgehou het sy tree op in belang van aanspreeklikheid.
# ‘n Staatsondersoek in Massachusetts, VSA, het bewyse gevind dat meer as 270 Katolieke geestelikes oor ‘n tydperk van ongeveer ‘n eeu byna een-duisend kinders in drie bisdomme misbruik het. Die kantoor van die prokureur-generaal sê die ondersoek dek die bisdomme van Fall River, Springfield en Worcester. Die verslag identifiseer 275 beskuldigde geestelikes en 944 slagoffers. Die bevindinge volg na ‘n staatsondersoek wat etlike jare gelede begin is en vertraag is deur regsake rondom die vrystelling van die verslag. Die ondersoek kyk na bewerings wat dekades terug strek en sluit gevalle in van geestelikes wat reeds oorlede is.
# Krieket: Australië het Suid-Afrika volgens die Duckworth–Lewis–Stern-metode met 45 lopies verslaan nadat reën die derde en laaste eendagwedstryd in Potchefstroom kortgeknip het. Alex Carey het die beste gevaar met 74 van 88 balle en die besoekers het 322 vir nege in hul 50 boulbeurte behaal. Daarna het Ryan Rickelton ʼn onoorwonne 71 van 81 balle aangeteken, maar die Proteas was op 145 vir vier in die 28ste boulbeurt toe die reën begin het. Hulle het egter op daardie stadium 192 nodig gehad, wat Australië die oorwinning besorg het. Suid-Afrika wen die reeks met 2-1.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-496-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-160-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 101-dollar-70-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit van Kaapstad het met 17 plekke tot die 147ste plek in die Times Higher Education-wêrelduniversiteitsranglys vir 2027 opgeskuif. Die instelling beklee steeds die hoogste plek in Afrika en hy het sy hoogste algehele telling op die ranglys sedert 2016 behaal. Die universiteit sê verbeterings in navorsing en onderrig was van die hooffaktore wat tot die styging bygedra het. Die Universiteit van Kaapstad se visekanselier, Mosa Moshabela, sê die uitslag weerspieël die pogings van studente, personeel, alumni en vennote.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….