Nuus 12:00
BULLETIN 30 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SASSA hersien November se toelaebetalingsdatum weens die verkiesing
# Forum for South Africa vra optrede deur die NVG in ‘n korrupsiesaak waarby minister Ntshavheni betrek word
# En Mark Zuckerberg sê die vestiging van ‘n K-I-raamwerk is ‘n beduidende stap vorentoe
# Die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA hersien die betaaldatums vir maatskaplike toelaes in November omdat dit met die plaaslike regeringsverkiesing oorvleuel. Pensioen-begunstigdes sou oorspronklik op 3 November uitbetaal word, gevolg deur die ongeskiktheidstoelaag en die kinderondersteuningstoelaag die volgende twee dae. Die verkiesing vind op 4 November plaas. SASSA sê hy praat met belanghebbendes oor nuwe betaaldatums. Die agentskap het intussen verseker begunstigdes sal steeds hul toelaes ontvang.
# Forum for South Africa het berigte verwelkom dat die Nasionale Vervolgingsgesag dit oorweeg om die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, te vervolg. Dit hou verband met ‘n tender van 2,5-miljoen-rand wat aan ‘n konsultant toegeken is tydens haar ampstermyn as munisipale bestuurder van die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit in Limpopo. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê die NVG moet vinnig besluit, want die publiek verdien antwoorde:
# Die Stad Tshwane se Nooddienste-departement bly op hoë gereedheidsgrondslag terwyl swaar reën, skadelike wind en hewige donderstorms tot verdere oorstromings kan lei. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir ongure weer wat van vanmiddag tot middernag verwag word. Die departement se woordvoerder, Nana Radebe-Kgiba, sê noodpersoneel het die afgelope paar dae reageer op oorstromings in Mamelodi-Oos, Meyerspark, Nellmapius, dele van Centurion, Wilgerpark en Wonderboom:
Nuus uit die buiteland:
# Meta se uitvoerende hoof, Mark Zuckerberg, sê die raamwerk vir kunsmatige intelligensie is ‘n beduidende stap vorentoe. Die Amerikaanse president, Donald Trump, en vooraanstaande tegnologieleiers het in die Withuis ‘n stel vrywillige veiligheidstandaarde onderteken terwyl die druk vir strenger beheermaatreëls toeneem. Dit is nou die ondernemings se verantwoordelikheid om te verseker hul tegnologie is veilig. Zuckerberg sê dit bied Amerikaners en gebruikers die vertroue dat die tegnologie werk soos dit moet:
# Rugby: Die Haaie se verdedigingsafrigter, Joey Mongalo, sê Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met die verdedigende kampioen, Leinster, in Durban is ‘n uitstekende geleentheid om hulself teen die bestes te toets. Die span het sy veldtog afgeskop deur Ospreys 41-24 te klop, terwyl die Ierse span teen die Leeus verloor het. Mongalo sê hulle kon vier swak oomblikke in die wedstryd teen Ospreys identifiseer eerder as ‘n algemene verdedigingsprobleem, wat hulle nie teen Leinster kan bekostig nie. Hy erken die Haaie se agterlyn gaan ‘n moeilike tyd beleef.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-166-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-198-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….