Nuus 15:00
BULLETIN 29 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum en Solidariteit stel ‘n oplossing voor vir die diplomatieke geskil tussen Suid-Afrika en Amerika
# Die soektog duur voort na ‘n 85-jarige volstruisboer wat in vloedwater meegesleur is
# En sokker: Botswana onttrek van ‘n gesamentlike bod met Suid-Afrika en Zimbabwe vir 2028 se Afrikabekertoernooi
# Die Solidariteits-beweging en AfriForum het voorgestelde antwoorde op vyf vrae van die Amerikaanse regering verskaf. Dit het ten doel om die diplomatieke geskil op te los en 500-duisend werksgeleenthede te beskerm verbind met handel met Amerika en die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Dit handel oor rasgebaseerde wetgewing, landelike veiligheid, “Kill the Boer“, eiendomsregte en die vlugtelingprogram. Woordvoerder Flip Buys sê Amerika het in beginsel sy goedkeuring verleen:
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank sê die ekonomie se afname in die tweede kwartaal was grootliks te wyte aan swakker produksie. Die mynbou-, vervaardigings- en handelsektore het die swaarste deurgeloop onder hoër koste, swakker vraag en logistieke beperkings. Die mynbousektor het met drie persent gekrimp, met ‘n afname in produksie in sewe van die 12 mineraalgroepe, insluitend platinumgroepmetale, mangaan, goud en ystererts. Die bank sê die vervaardigingsektor het met 1,8- persent gekrimp – die derde agtereenvolgende kwartaallikse afname – terwyl die landbousektor wel verligting gebring het.
# Die kabinet veroordeel die toename in geslagsgeweld ná die wrede moord op dertien vroue in Gauteng. Vier verdagtes is borgtog geweier en bly in aanhouding. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet steun ‘n presidensiële opdrag vir die ontplooiing van ‘n multidissiplinêre polisiespan om die oorblywende verdagtes op te spoor. Sy beklemtoon vrouemoord verg ‘n dringende reaksie en sê die onlangs gewysigde wetgewing verseker dat oortreders vervolg word:
# ‘n Uitgebreide soektog is steeds aan die gang na ‘n 85-jarige bekende in volstruiskringe, Saag Jonker van Oudtshoorn. Hy is Sondag in sy Toyota Land Cruiser meegesleur toe hy probeer het om ‘n laagwaterbrug oor die vol Olifantsrivier oor te steek. Polisieduikers het ‘n tweede soektog van stapel gestuur waaraan nooddienste, hommeltuig-operateurs, ‘n helikopter, boere en vrywilligers ook deelneem. Dit is gister hervat, met die fokus op die rivier stroomaf van die brug. Die pad by die Rooiheuwel-oorgang is gesluit terwyl die soektog voortduur.
# Sokker: Botswana het onttrek aan die gesamentlike bod met Suid-Afrika en Zimbabwe om die Afrikabeker-toernooi in 2028 aan te bied. Die land se regering het volgens berigte geweier om die vereiste finansiële waarborg vir die bod te verskaf en beskou nie die aanbieding van die toernooi as belangrik nie. Suid-Afrika en Zimbabwe het die vereiste dokumente voor die sperdatum van 14 September ingedien. Botswana het voorheen belangstelling getoon om volgende jaar se toernooi aan te bied voor dit gesamentlik aan Kenia, Tanzanië en Uganda toegeken is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-13-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-160-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….