Nuus 11:00
BULLETIN 29 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana bevestig die voormalige DA-lid Mark Burke se onderneming word ondersoek
# Trump ontken ‘n aanbod om sommige sankies teen Iran op te hef en sy bates vry te stel
# En rugby: Codie Taylor voer die All Blacks aan in die Bledisloebeker-reeks teen die Wallabies
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die Reserwebank ondersoek die finansiële onderneming Kastelo, wat gesamentlik gestig is deur die voormalige voorsitter van die DA se Finansies-komitee, Mark Burke. Dit het na bewering aspekte van sy sakemodel verkeerd voorgestel. Kastelo het ook kliënte se eenmalige diskresionêre toelaes en buitelandse beleggingstoelaes gebruik om fondse vir sy eie sake-doeleindes oorsee te skuif. Buitelandse valuta-transaksies beloop ongeveer vier-miljard-rand. Godongwana sê die bank het gevalle identifiseer waar sekere kliënte skynbaar onbewus was dat buitelandse bankrekeninge in hul name geopen is.
Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, waarsku intussen ‘n groot kuberaanval kan die volgende ernstige wêreldwye finansiële krisis veroorsaak. Hy het in Johannesburg die hoofrede geleer op die derde forum van die Mapungubwe-instituut vir Strategiese Besinning. Kganyago sê toenemende wanorde, aangevuur deur geopolitiek, klimaatskokke, die gevare van kunsmatige intelligensie en hoë skuldvlakke, skep beleidsrisiko’s en bedreig finansiële bestendigheid. Hy vra doeltreffende regulatoriese en sekerheidsmaatreëls om die finansiële stelsel te beskerm:
# Dele van die Johannesburgse middestad en Marshalltown is steeds sonder elektrisiteit na Saterdag se groot brand by die Johannesburg-Sentraal-substasie. Die jongste kragonderbreking volg slegs ‘n dag nadat kragtoevoer herstel is ná ʼn onderbreking van twee weke. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê tegniese spanne het bewyse gevind van moontlike kabeldiefstal en opsetlike beskadiging in ondergrondse tonnels, insluitend aanduidings dat koperkabels afgesny is. Hy sê kragvoorsiening sal in fases herstel word:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika ontken dat hy aangebied het om sommige sanksies teen Iran op te hef en fondse vry te stel in ruil vir toegewings oor kernkrag. Amerikaanse en Iranse amptenare het gister afsonderlik met bemiddelaars beraadslaag. Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, sê Teheran is heeltemal bereid om die oorlog te hervat, maar ook tot hernude diplomasie. Trump glo Amerika sal die oorlog wen:
# Rugby: Die All Blacks se afrigter, Dave Rennie het ‘n sterk groep van 34 spelers aangekondig vir volgende maand se twee Bledisloebeker-toetse teen die Wallabies. Een-en-dertig spelers wat deel was van die oorspronklike groep van 44 vir die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks teen die Springbokke is behou, asook Richie Mo’unga, wat in Suid-Afrika as ‘n plaasvervanger aangesluit het. Codie Taylor sal die span aanvoer, terwyl Scott Barrett terugkeer ná ‘n lang afwesigheid weens ‘n besering. Shannon Frizell is die eerste keer sedert 2023 weer terug.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-981-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-144-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….