Nuus 06:00
BULLETIN 29 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê rassisme, xenofobie en verwante onverdraagsaamheid duur voort
# Mapisa-Nqakula ontken ‘n omkoopbedrag van twee-miljoen-rand vir haar man se bevordering
# En die vyf mans wat in Brittanje vir terreurmisdrywe in hegtenis geneem is, is op borgtog vrygelaat
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê rassisme en verwante onverdraagsaamheid kan nie deur staatsoptrede alleen uit die weg geruim word nie. Hy het deelgeneem aan ‘n hoëvlakvergadering van die Verenigde Nasies om die 25ste herdenking van die aanvaarding van die Durban-verklaring en -aksieplan te gedenk. Die verklaring erken geskiedkundige onregte en takel ongelykhede af en bou samelewings wat berus op waardigheid, gelykheid en geregtigheid vir almal. Lamola sê wette, onafhanklike instellings en beleid teen diskriminasie is noodsaaklik:
# Die voormalige minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het ontken dat sy die militêre kontrakteur Nombasa Ntsondwa-Ndhlovu vir twee-miljoen-rand gevra het om haar man tot geneesheer-generaal van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag te laat bevorder. Die staat beweer sy was van plan om die geld te gebruik om die destydse hoof van die SANW, generaal Solly Shoke, te beïnvloed. Mapisa-Nqakula het deur middel van ‘n tolk aan die Hooggeregshof in Pretoria gesê dat sy geen mag gehad het om die aanstelling te doen nie, aangesien die finale besluit by die president berus het:
# ArcelorMittal Suid-Afrika is in gesprek met die Nywerheidsontwikkelingskorporasie oor ‘n ooreenkoms van drie-miljard-rand om die toekoms van die land se staalbedryf te verseker. Die korporasie het aangebied om ‘n belang van 80-persent in die sukkelende staalvervaardiger te verkry, maar onderhandelings word vertraag deur meningsverskille oor die maatskappy se struktuur vir swart ekonomiese bemagtiging. Die korporasie sê hy werk aan ‘n blywende oplossing vir die maatskappy se uitdagings, met die doel om Suid-Afrika se noodsaaklike staalvervaardigingsvermoëns te beskerm.
# Die Gautengse Vereniging van Drankhandelaars vra nouer samewerking tussen die polisie, gemeenskappe en ondernemings om massaskietvoorvalle te voorkom. Na aanleiding van die dood van 18 mense in Wedela aan die Wes-Rand, vra die vereniging die owerhede om inligting te deel, sigbare polisiëring te verhoog en pogings te koördineer om georganiseerde misdaad in hoërisikogebiede te bekamp. Jongikhaya Kraai van die organisasie sê besighede kan kringtelevisie en paniekknoppies gebruik om sekuriteit te verbeter, maar dit kan nie polisie-optrede vervang nie.
# Die vyf Britse mans wat Sondag naby RAF Fairford in Gloucestershire vir terreurmisdrywe in hegtenis geneem is, is op borgtog vrygelaat. Die Amerikaanse Lugmag gebruik die lugmagbasis vir sy operasies teen Iran. Die hoof van teen-terrorisme-polisiëring, assistent-kommissaris Laurence Taylor, sê die ondersoek is nog nie afgehandel nie, en die vyf mans is onderworpe aan streng voorwaardes wat hul bewegings en kontak met ander betref. Hy sê die polisie ondersoek verskeie moontlikhede:
# Krieket: Môre se laaste eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Australië in Potchefstroom is ‘n blote formaliteit nadat die Proteas die eerste twee wedstryde gewen en daarmee hul sesde agtereenvolgende eendagreeks teen hul aartsvyand beklink het. Die gashere het die besoekers met 67 lopies in Durban geklop voor ‘n oorwinning van 32 lopies op die Wanderers. Die eendagwedstryde word deur drie toetse gevolg, Australië se eerste in Suid-Afrika sedert die berugte 2018 skuurpapier-skandaal in Kaapstad. Die eerste toets begin volgende Vrydag in Durban.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-458-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-124-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 102-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….