Nuus 08:00
BULLETIN 8 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mmusi Maimane vra vir ‘n onafhanklike speaker en regverdige toepassing van die reëls tydens die Staatsrede
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement teken meer as 800 gevalle van voedselvergiftiging aan
# En krieket, Joburg Super Kings verpletter die Paarl Royals om die tweede SA20-kwalifiseerwedstryd te haal
# Build One South Africa se leier, Mmusi Maimane, stel ‘n onafhanklike speaker en regverdige toepassing van parlementêre reëls voor tydens die Staatsrede. Hy het reageer op nuwe gesamentlike reëls wat die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, afgekondig het om orde te handhaaf. Maimane beklemtoon dis nodig om aandag te gee aan die hoof-oorsake van ontwrigting, en wys ook op die belangrikheid van parlementêre aanspreeklikheid.
# Die vakbondfederasie Saftu sê hy is diep ontsteld oor die jongste brandstofprysverhoging, wat moontlik finansiële druk op motoriste en pendelaars kan verhoog. Volgens Saftu sal die verhoging van 75-sent per liter in beide oktane petrol en tot 73-sent per liter in diesel na verwagting die uitdagings vererger vir huishoudings wat reeds worstel met hoë lewenskoste. Trevor Shaku van Saftu doen ‘n beroep vir wêreldwye optrede om bespiegeling oor gebruiksgoedere soos olie te bekamp, wat bydra tot onbestendigheid in die brandstofprys:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê sedert die eerste geval van voedselvergiftiging in Oktober verlede jaar aangemeld is, het nog 861 mense siek geword en elf is daaraan dood. In die jongste voorval is ‘n graad een-leerder van Mandlethu Primary School in Tsakane, Brakpan, Dinsdag dood nadat sy volgens berigte by ʼn plaaslike spazawinkel koekies gekoop het. Vier kinders sterk aan in die hospitaal. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê hulle sal voortgaan om gemeenskappe wenke oor voedselveiligheid te gee:
# ʼn Amerikaanse hommeltuigaanval op ʼn motor in Bagdad het gelei tot die dood van drie lede, insluitend die bevelvoerder, van die Irans-ondersteunde Kataib Hezbollah-groep. Amerika beskuldig die Islamic Resistance in Irak, ʼn uitgebreide koalisie militante groep wat deur Iran ondersteun word, van verlede maand se hommeltuigaanval in Jordanië waarin drie Amerikaanse soldate dood is. Amerika se sentrale bevelstruktuur sê hy sal nie huiwer om almal aanspreeklik te hou wat sy soldate se veiligheid bedreig nie. Irak se bevelstruktuur vir gesamentlike operasies sê hy beskou die aanval as ‘n nuwe aggressie deur Amerika.
# Krieket: Joburg Super Kings het die Paarl Royals op die Wanderers met nege paaltjies verslaan en takel vandag Durban’s Super Giants in die tweede SA20-kwalifiseerwedstryd. Die Engelse naatbouler, Samuel Cook, het in sy SA20-debuut vier paaltjies platgetrek terwyl die Royals almal uit was vir ʼn skamele 138. Vyftigtalle deur Leus du Plooy en kaptein Faf du Plessis het bygedra om die Super Kings se telling op 139 te staan te bring met nog 40 balle oor. JSK se afrigter, Stephen Fleming, sê hulle het goed gekolf en geboul:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-526-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-32-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….