Nuus 09:00
BULLETIN 28 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi sê die advertensiekontrakte vir Nasionale Gesondheidsversekering moet ondersoek word
# Die ondersoek na geslagsgeweld en vrouemoord word verleng
# Swem: Nog name is ingesluit vir keuring vir die Wêreld-kortbadkampioenskap
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, en sy adjunk Joe Phaahla, het bewerings van onnodig verhoogde advertensiekontrakte na die Spesiale Ondersoekeenheid, die Ouditeur-Generaal en die Openbare Beskermer verwys. Volgens News24 is kontrakte vir die Nasionale Gesondheidsversekering se bemarking en gesondheidskommunikasie wat aanvanklik net meer as ‘n duisend-rand werd was, tot altesaam 182-miljoen-rand verhoog. Die geld is volgens berigte van MIV/Vigs- en ander noodsaaklike programme verhaal. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die bewerings is misleidend maar moet deur onafhanklike ondersoekers getoets word:
# Die nasionale ondersoek na die aanmelding, slagoffer-ondersteuning en voorverhoor-werking van die strafregstelsel se reaksie op geslagsgeweld en vrouemoord is verleng. Die Kommissie vir Geslagsgelykheid, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalgemeenskappe doen die ondersoek. Die Menseregtekommissie se woordvoerder, Wisani Baloyi, sê die verlenging volg na oorweldigende reaksie op die oproep vir voorleggings, wat ʼn betekenisvolle openbare belangstelling in die ondersoek toon:
# ActionSA veroordeel die massaskietery gisteroggend in die vroeë oggendure in Lwandle, naby die Strand by Kaapstad. Tien mense is doodgeskiet en elf gewond toe gewapende mans op ʼn kuierplek losgebrand het. Vier mense is ook in ʼn afsonderlike skietvoorval in Khayelitsha dood. Wes-Kaapse polisie het ʼn multidissiplinêre taakspan, gelei deur verskeie speurders wat ernstige geweldsmisdaad ondersoek, saamgestel om die aanval in Lwandle te ondersoek. ActionSA se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad, Dereleen James, sê hulle eis ʼn dringende en deeglike ondersoek na hierdie skietvoorvalle:
# Switserse kiesers het ‘n voorstel om neutraliteit te handhaaf, teen-Russiese sanksies op te hef en lidmaatskap van NAVO te verbied, oorweldigend met ongeveer 70-persent verwerp. Die regsgesinde populistiese Switserse Volksparty het die voorstel ondersteun en beweer die regering beweeg te na aan die Europese Unie en NAVO, veral oor Rusland se oorlog teen Oekraïne. Die Switserse regering het die maatreël teengestaan en aangevoer indien dit goedgekeur sou word, die land nie langer ‘n betroubare vennoot in internasionale veiligheidsbeleid sal wees nie.
# Swem: Verskeie swemmers het B-kwalifiseringstye by die SA Kortbadkampioenskap behaal, en is daarom steeds verkiesbaar vir die Wêreld-kortbadkampioenskap in Beijing, China, in Desember. Drie mans het B-kwalifiseringstye in die 100-meter-vryslag behaal, met Guy Brooks wat die titel in 47,59 sekondes verower het, voor Armand Coetzee en Kaydn Naidoo. Matthew Caldwell het die mans een-duisend-500-meter-vryslag in ‘n B-kwalifiseringstyd van 15 minute 13,33 sekondes gewen, terwyl Georgia Nel ook in aanmerking kom vir kwalifisering in die 100-meter-individuele wisselslag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-450-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-198-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….