Nuus 08:00
BULLETIN 28 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA doen ‘n beroep op sterker misdaadintelligensie
# SAFTU vra vir ‘n nasionale veldtog teen onwettige vuurwapens
# En sokker: Suid-Afrika klop Mosambiek en behou die COSAFA O.20-kampioenskapstitel
# Die DA vra onmiddellike multidissiplinêre samewerking tussen Misdaadintelligensie, gespesialiseerde speurders, die Valke, vuurwapenopsporing en forensiese kenners om die netwerke te identifiseer en te ontmantel wat verantwoordelik is vir massaskietvoorvalle, bende-aktiwiteite en afpersing. Dit volg na massaskietvoorvalle die afgelope naweek in Gauteng en die Wes-Kaap waarin 27 mense dood en 26 beseer is. Lisa Schickerling van die DA sê Suid-Afrika mag nie daaraan gewoond raak dat swaar gewapende misdadigers by openbare plekke instorm, mense doodmaak en sonder gevolge wegkom nie:
Die vakbondfederasie SAFTU vra intussen vir die totstandkoming van ‘n breë nasionale beweging om misdaadbendes te ontwapen en gemeenskappe uit geweld te red. Asive Dyani van SAFTU sê die regering kan nie die verspreiding van onwettige vuurwapens bloot as ‘n polisiëringsprobleem op straatvlak beskou nie; maar moet ook die ekonomie blootlê wat die vuurwapens voorsien:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het 42,4-miljoen-rand in kontant, eiendom, pensioene en beleggings gevind wat verbind word met omkoopgeld wat volgens berigte deur die sakeman Stefan Joel Govindraju aan amptenare by die Tembisa-hospitaal betaal is. Die ondersoekeenheid sê Govindraju se sindikaat het 75 maatskappye gebruik om ongeveer 600-miljoen-rand se hospitaalkontrakte te kry, en 100-miljoen-rand is as gunslone aan hospitaalamptenare betaal. Govindraju is verlede maand gearresteer op 70 aanklagte wat bedrog, diefstal, geldwassery en korrupsie-verwante oortredings insluit. Hy is op borgtog van 200-duisend-rand vrygelaat en verskyn na verwagting hierdie week in die hof vir pleit- en vonnisoplegging-prosedures.
# Amerika se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Mike Waltz, beskuldig Iran dat hy te kwader trou onderhandel. President Donald Trump verwerp Teheran se jongste voorstel om die Straat van Hormoes binne ‘n week te heropen en kern-onderhandelings te hervat in ruil daarvoor dat Amerika sy vloot se versperring van Iranse hawens ophef. Die sewe maande oue konflik het die vervoer van olie deur die seeweg ontwrig. Waltz het aan NBC gesê Iran se voorstel was ʼn siniese poging om iets, wat hulle weet onaanvaarbaar is, op die tafel te kry:
# Sokker: Suid-Afrika se Onder 20-span het hulle COSAFA Onder 20-kampioenskapstitel vir mans behou na ʼn welverdiende 2-1-sege teen die gashere, Mosambiek. Amajita se deurbraak was in die 27ste minuut toe Oarabile Booysen die eerste punt aangeteken het. Mosambiek het die telling egter twee minute later gelykop gemaak met Martinho Começar se bydrae. In die tweede helfte het Suid-Afrika ʼn strafdoel gewen en die toernooi se punte-koning, Steven Mendes, het die oorwinning beklink. Amajita het ook vir die CAF Onder 20-Afrikabaker gekwalifiseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-322-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-195-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….