Nuus 11:00
BULLETIN 26 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nasionale Taakspan vra strenger optrede wat geslagsgeweld, vrouemoord en haat-gedrewe geweld betref
# Die waarnemende minister van Polisie ondersoek polisiëringsvermoë in Ekurhuleni
# En Iran wag op Amerika se reaksie op sy voorstel om die Straat van Hormoes te heropen
# Die Nasionale Taakspan oor Seksuele Oriëntasie, Gender-identiteit, -uitdrukking en -geslagseienskappe vra ‘n strenger en gekoördineerde strafreg-reaksie op geslagsgeweld en vrouemoord. Dit volg nadat nege vroue se liggame die afgelope twee maande in Kemptonpark en omliggende gebiede in Ekurhuleni gevind is. Die taakspan sê die moorde beklemtoon die verband tussen vrouehaat, gewelddadige diskriminasie, vrouemoord en geweld teen LGBTIQ-plus mense. Hy vra groter sigbaarheid, deeglike ondersoeke en doeltreffende vervolgings, en moedig slagoffers en gemeenskappe aan om haat-gemotiveerde geweld onmiddellik by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aan te meld.
Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het intussen ʼn oorsigbesoek aan Ekurhuleni gebring om die polisie se gereedheid en vermoë op stasie-vlak te bepaal. Hy het die polisiekantore in Kemptonpark en Tembisa besoek en gefokus op geslagsgeweld, vrouemoord en ondersteuning aan slagoffers. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê Cachalia het ná die onlangse ontdekking van tien liggame in Ekurhuleni, ook die geslagsgeweld-afdeling en slagoffer-ondersteuningskamers by die stasies besoek:
# Eskom het die tweede agtereenvolgende week ʼn energiebeskikbaarheid-syfer van 70,4-persent aangeteken wat sy hoogste in ses jaar is. Suid-Afrika het ook 498 agtereenvolgende dae geen beurtkrag gehad nie. Die laaste beplande onderbrekings was verlede jaar in Mei. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê die nutsdiens versterk die land se energiesekerheid deur beter bedryfs- en finansiële volhoubaarheid:
# Iran wag op Amerika se amptelike reaksie op sy voorstel om die Straat van Hormoes te heropen en gevegte in die groter Midde-Oosterse oorlog te beëindig. Intussen berig die Wall Street Journal president Donald Trump het die voorstel verwerp. Iran het die diplomatieke inisiatief by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York voorgelê en sê bemiddelaars van Katar het dit aan die Amerikaners oorgedra. Iran sê as dit aanvaar word, sal die strategiese waterweg binne sewe dae heropen en vyandelikhede in die streek gestaak word.
# Rugby: Die Springbok-vroue se medekapteine, Sizophila Solontsi en Unam Tose, sê hulle is gereed vir die verwagte aanslag van Italië vanmiddag in die Stadio Omero Tognon in Pordenone. Die span het gister hul voorbereiding vir die wedstryd, die tweede in hul W-15 Global Series, afgehandel. Solontsi het gesê die wedstryd bied die perfekte geleentheid om te herstel nadat hulle ‘n week gelede teen Wallis gesukkel het. Sy het al verskeie kere as kaptein van die Springbok-vrouesewespan opgetree, maar vandag se wedstryd sal die eerste wees waarin sy daardie verantwoordelikheid op toetsvlak behartig.
# En ten slotte, die spesialis K9-maatskappy Luna Hounds sê opgeleide honde help Macadamia-boere om plae op te spoor voordat hulle sigbaar word. Robynne Oosthuizen het aan Engineering News gesê, honde wat opgelei is om reukopsporing te doen kan ‘n spesifieke dopluis-insekbesmetting identifiseer met ‘n gerapporteerde 99-persent akkuraatheid, wat produsente in staat stel om behandeling te teiken en die gebruik van insekdoder te verminder. Die maatskappy sê ‘n opgeleide span kan een hektaar binne elf minute deursoek. Die honde bespeur veranderinge in plantreuk wat deur plae veroorsaak word, met resultate wat aangeteken word en aangetaste bome wat vir verdere behandeling gemerk word .
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….