Nuus 18:00
BULLETIN 25 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Siphamandla Mthethwa neem op 1 November oor as ACSA se uitvoerende hoof
# Gauteng se Departement van Gesondheid sê mediese nooddienste bly ononderbroke te midde van tugoptrede teen personeel
# En motorsport:, George Russell spring voor weg in die Azerbeidjan Grand Prix
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika het Siphamandla Mthethwa van begin November aangestel as sy nuwe uitvoerende hoof. Hy keer terug nadat hy tydens die Covid-19-pandemie as finansiële hoof gedien het. Mthethwa is ‘n geoktrooieerde rekenmeester en beskik oor ervaring in korporatiewe finansies, tesourie- en risikobestuur. Die maatskappy se raad sê in ‘n verklaring Mthethwa keer terug terwyl ACSA ‘n nuwe groeifase betree, wat groot beleggingsplanne vir lughawens insluit. Mthethwa neem die leisels oor by die waarnemende uitvoerende hoof, Charles Shilowa.
# Die DA in die Wes-Kaap sê boumafias vertraag nie net infrastruktuurprojekte nie, maar steel ook werkgeleenthede, beleggings en geleenthede van gemeenskappe. Sewe gevalle van afdreiging, 14 van intimidasie en sewe van geweld is tussen 2021 en verlede maand in provinsiale regerings-infrastruktuurprojekte aangemeld. Dirk Wessels van die DA sê drie van die sewe gevalle van afdreiging het vertragings van tussen twee weke en tien maande veroorsaak:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het die publiek verseker dat sy mediese nooddienste ononderbroke voortgaan ten spyte van tugoptrede teen 21 werknemers. Die betrokke beamptes het kennisgewings oor pligsversuim ontvang nadat hulle nie hulle geskeduleerde aantal werksure voltooi het nie. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê in teenstelling met berigte, is geen mediese nooddienswerkers tans geskors nie:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het tydens ‘n vergadering met Japan se premier, Sanae Takaichi, kommer uitgespreek oor die swak jen. Volgens Japan se minister van Finansies, Satsuki Katayama, het Takaichi gesê ‘n ondergewaardeerde jen is problematies. Die twee leiers het ontmoet tyden die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering. Katayama sê hulle het ‘n verbintenis bevestig om die oormatige wisselvalligheid van die geldeenheid teen te werk na vroeëre gekoördineerde ingryping. Die jen het verder verswak, wat Japan se energie-invoerkoste verhoog en inflasie-kommer laat toeneem het.
# Motorsport: George Russell het die voorste wegspringplek vir môre se Azerbeidjanse Grand Prix in Baku verower. Die Mercedes-renjaer was amper nege-tiendes van ‘n sekonde vinniger as Ferrari se Charles Leclerc, wat langs hom in die voorste ry gaan wegspring. Die kampioenskapsvoorloper, Kimi Antonelli, het tydens die eerste kwalifiseringsronde gebots en spring 16de weg. Oscar Piastri het derde gekwalifiseer, voor Red Bull se Isack Hadjar, terwyl Lando Norris en Lewis Hamilton onderskeidelik vyfde en sesde begin. Max Verstappen sal agtste wegspring. Die wedren vind môre plaas vanweë Azerbeidjan se Herdenkingsdag Sondag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-700-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-267-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 103-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….