Nuus 16:00
BULLETIN 25 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende minister van Polisie sê Wally Rhoode het nie die Phala Phala-strafsaak probeer keer nie
# Nepal vra skenkings en nie lenings nie ná die dodelike gletservloed
# En motorsport: Lando Norris is onseker voor Azerbeidjanse Grand Prix
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê daar is geen bewyse dat die hoof van die Presidensiële Beskermingseenheid, Wally Rhoode, die saak probeer verhoed het ná die diefstal op president Cyril Ramaphosa se plaas, Phala Phala in Limpopo, in 2020 nie. Chachalia het in ‘n skriftelike antwoord op ‘n vraag deur die EFF gesê dit was die plaasbestuurder, Hendrick von Wielligh, se verantwoordelikheid om die saak oop te maak en Rhoode was nie die eerste persoon op die toneel nie. Hy sê die bewering dat Rhoode die saak probeer keer het, kon nie bewys word nie.
# Die Madlanga-kommissie se getuienisleiers het aansoek gedoen vir ‘n gedeeltelike verhoor agter geslote deure om WhatsApp-kommunikasie en regsreaksies wat met die voormalige adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan verbind word, te oorweeg. Hulle sê die bekendmaking van sekere inligting kan sensitiewe misdaadondersoeke en operasionele veiligheid in gedrang bring. Die bewyse sluit in gesprekke wat herwin is van Khan se toestelle waarop beslag gelê is ná sy inhegtenisneming op afsonderlike aanklagte. Khan sal na verwagting Maandag voor die kommissie verskyn, onderhewig aan ‘n onafhanklike mediese ondersoek ná vorige vertragings wat met gesondheidskomplikasies verbind word.
# Statistiek Suid-Afrika sê siviele skuldgevalle het in die drie maande tot Julie toegeneem vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Die aantal siviele dagvaardings wat vir skuld uitgereik is, het met 3,9-persent gestyg, terwyl siviele vonnisse met 7,6-persent toegeneem het. Vhonani Kwinda van Stats SA sê die syfers dui op voortdurende druk op verbruikers wat sukkel om hul skuldverpligtinge na te kom:
Nuus uit die buiteland:
# Die eerste minister van Nepal, Balendra Shah, vra internasionale skenkingshulp om sy land te help herstel ná die gletservloed waarin minstens een-duisend-450 mense dood is. Meer as ses-duisend mense word steeds vermis. Shah het op die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies gesê herstel- en heropbouwerk kan tot 10-persent van Nepal se ekonomie beloof. Hy sê kwesbare lande behoort ná klimaatrampe nie verder in skuld gedwing te word nie. Shah het ook gepleit vir nouer samewerking met Indië en China oor vroeë waarskuwingstelsels en klimaatveerkragtigheid.
# Motorsport: Lando Norris van McLaren verwag nie om vandag die voorste wegspringplek in te palm in die Azerbeidjanse Grand Prix nie. Hy en sy spanmaat, Oscar Piastri, het in gister se oefenrondes sowat 1,5-sekondes ná die pasaangeër, George Russell van Mercedes, geëindig. Norris, wat 106 punte agter die voorloper in die Formule Een-bestuurderskampioenskap, Kimi Antonelli van Mercedes is met nege wedrenne oor, sê dis hartseer dat hulle so ver agter is:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-206-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-305-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….