Nuus 12:00
BULLETIN 25 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryemarkstigting steun die jongste Amerikaanse maatreëls teen Suid-Afrika
# MeatCo in Namibië skort die uitvoer van beesvleis en slag op na ‘n uitbreking van bek-en-klouseer
# En rugby: Duane Vermeulen sê die Bokke neem nie die eenmalige toets teen Australië ligtelik op nie
# Die Vryemarkstigting sê Suid-Afrika kan Amerika nie soos ‘n vloerlap behandel terwyl hy hom aktief by Amerikaanse teenstanders skaar nie. Die organisasie het ‘n afvaardiging na Amerika gestuur en verklaar dat hy Amerikaanse ampsgenote wil inlig oor toestande in Suid-Afrika wat steeds die verhoudinge skaad. Amerika het verlede week nuwe visumbeperkings ingestel teen Suid-Afrikaners wat hy glo verantwoordelik is vir bedreigings wat verband hou met diskriminerende rasgegronde wette en geweld teen minderheidsgroepe. Die stigting sê die betrokke beleide is strydig met die waardes van die land se Grondwet.
# Die MK-party eis dat president Cyril Ramaphosa onmiddellik die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, se skorsing ophef. Dit volg nadat aanklagte teen hom vroeër die week amptelik teruggetrek is. Masemola het tereggestaan op vier aanklagte van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Dit hou verband met ‘n tender vir gesondheidsdienste in die Tshwane-distrik wat aan die omstrede Vusimuzi “Cat” Matlala se maatskappy, Medicare 24, toegeken is. Die MK-party sê Ramaphosa het geen rede om Masemola langer uit sy pos te hou nie.
# Standard Bank sê die Reserwebank se besluit om die rentekoers met 25 basispunte te verhoog, kom op ʼn moeilike tyd vir boere wat reeds deurloop onder hoë brandstof-, kunsmis- en ander insetkoste. Die styging is daarop gemik om inflasie onder beheer te hou. Brendan Jacobs van Standard Bank sê voortslepende onsekerheid in die wêreld se oliemarkte en die konflik in die Midde-Ooste dra ook by tot stygende pryse in die voedsel-waardeketting:
Nog landbounuus:
MeatCo in Namibië het verdere uitvoere van beesvleis en die slag van diere opgeskort nadat ‘n uitbreking van bek-en-klouseer bevestig is. Tien beeste het positief getoets op ‘n kommersiële plaas in die Karasburg-staatsveearts-distrik in die Khara-streek. Dit het daartoe gelei dat die regering beheermaatreëls ingestel het, insluitend die opskorting van in- en uitvoer van gesplete hoefdiere. Undamuje Hambira van MeatCo sê hulle ondersoek die toestand van besendings beesvleis wat reeds uitgevoer is:
# Rugby: Springbok-hulpafrigter Duane Vermeulen ontken dat hoofafrigter Rassie Erasmus se 13 veranderinge aan die beginspan vir die eenmalige toets teen die Wallabies ‘n gebrek aan respek is. Suid-Afrika speel Sondag se toets in Perth ná ‘n veeleisende reeks van vier wedstryde teen die All Blacks. Australië is sewende op die wêreldranglys, maar onoorwonne onder hul nuwe afrigter, Les Kiss. Vermeulen verwag die Wallabies sal uiters vasberade wees en die Bok-voorspelers uitdaag:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-196-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-281-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 103-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….