Nuus 08:00
BULLETIN 25 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê Suid-Afrika betree ‘n nuwe fase van ekonomiese vernuwing
# Benjamin Netanyahu sê die besluit om Iran aan te val, was een van die maklikste wat hy nog geneem het
# En swem: Vier Suid-Afrikaners kwalifiseer vir die Wêreld-kortbadkampioenskap
# Die regering sê Suid-Afrika begin nou, ná jare se worsteling met strukturele beperkings, die tasbare resultate van hervorming sien. Hy sê die betroubaarheid van energie het verbeter, logistieke prestasie is herstel, beleggings in die infrastruktuur van konstruksieplanne word uitgevoer en sakevertroue versterk. Die land nader 500 opeenvolgende dae sonder beurtkrag, terwyl ‘n portefeulje van 263 projekte ter waarde van bykans twee-duisend-miljard-rand deur verskeie ontwikkelingsfases vorder. Regeringswoordvoerder, David Jacobs, sê die uitdaging wat voorlê, is nie bloot om hervorming te handhaaf nie, maar om dit in momentum te omskep.
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, lei van vandag af die Suid-Afrikaanse afvaardiging by die 15de Verenigde Nasies-kongres oor Misdaadvoorkoming en Regspleging in die Verenigde Arabiese Emirate. Die kongres is ‘n globale forum vir lidstate en rolspelers in die regsektor om gesamentlike reaksies op misdaad te bespreek, strafregstelsels te versterk en die oppergesag van die reg te bevorder. Die departement se woordvoerder, Palesa Rammitlwa, sê die kongres sal na verwagting ook die Abu Dhabi-verklaring oorweeg:
# Die Stad Tshwane sê die invordering van agterstallige munisipale skuld is noodsaaklik om basiese dienste te befonds. Die metro verskerp tans sy veldtog om inkomste in te vorder. Die Hooggeregshof het hierdie week opdrag gegee dat die Mpumalanga-agentskap vir Ekonomiese Groei meer as 231-miljoen-rand aan Tshwane moet betaal vir water-, sanitasie- en elektrisiteit-dienste aan die Ekandustria-nywerheidspark. Die Tshwane-burgemeester se woordvoerder, Samkelo Mogobozi, sê die agentskap moet binne tien dae betaal:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê “ons sou almal dood gewees het” as Israel en Amerika nie Iran aangeval en sy kernfasiliteite vernietig het nie. Tientalle afgevaardigdes het gister uit die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gestap toe hy opstaan om sy toespraak te lewer. Netanyahu sê een van die maklikste besluite wat hy as eerste minister moes neem, was om Iran te teiken. Hy sê Israel en Amerika het saam teen Teheran opgetree om die beskawing te red:
# Swem: Die bekroonde Olimpiese swemmer, Tatjana Smith, het haar terugkeer na die sport aangekondig en die 50-meter-borsslag by die Suid-Afrikaanse Kortbad-kampioenskap in Pietermaritzburg gewen. Haar tyd was 29,50-sekondes, wat vinniger is as die vereiste om te kwalifiseer vir Desember se Wêreld-kortbadkampioenskap in Beijing, China. Michael Houlie en Chris Smith het ook vir Beijing gekwalifiseer nadat albei se tye vinniger was as die vereiste vir die mans se 50-meter-borsslag. Duné Coetzee het gekwalifiseer vir die vroue se 400-meter-vryslag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-199-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-277-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….