Nuus 07:00
BULLETIN 25 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sal die nasie toespreek oor maatreëls teen geslagsgeweld en vrouemoord
# BOSA sê nasionale en plaaslike regerings het ’n belangrike invloed op die bekostigbaarheidskrisis
# En president Abbas waarsku die Palestynse voortbestaan word bedreig
# President Cyril Ramaphosa sê hy sal die land binne dae toespreek oor die regering se stappe om geslagsgeweld en vrouemoord te hanteer. Hy sal ook inligting verskaf oor die ondersoek na die moord op nege vroue in die Ekurhuleni-gebied. Die president het dit gister by die viering van Nasionale Erfenisdag by die Bongolethu-sportstadion in Oudtshoorn in die Wes-Kaap aangekondig. Ramaphosa sê die pyn en lyding van die vroue van Suid-Afrika is ‘n nasionale skande:
# AfriForum sê gegewe die toenemende geskil tussen Suid-Afrika en die VSA, wil hy ’n aktiewe rol speel om praktiese voorstelle te maak vir die hantering van plaasmoorde en landelike veiligheid. Die organisasie het ’n openbare-gemeenskapsvennootskap voorgestel wat daarop gemik is om veiliger omstandighede in die land te skep, sodat mense nie verplig voel om te trek nie. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, sê dit vorm deel van sy omvattende veiligheidsvoorstel, wat sy landwye netwerk van 178 buurt- en plaaswagte insluit:
# Build One South Africa sê die land het ‘n groei-agenda nodig wat minstens een werk in elke huishouding kan verseker, terwyl munisipaliteite hul deel moet doen om stede en dorpe meer bekostigbaar te maak. Tans is salarisse die hoofbron van inkomste vir slegs 52,4-persent van huishoudings. BOSA sê wanneer huishoudings se finansies onder druk is, plaas onnodige munisipale heffings, onbetroubare dienste en ‘n swak infrastruktuur ‘n bykomende las op inwoners. Die party vra die regering om omstandighede te skep vir volgehoue ekonomiese groei, meer werksgeleenthede en verbeterde verdienste.
# Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, sê Johannesburg het nie ʼn gebrek aan potensiaal nie, maar kort ʼn regering wat daardie potensiaal kan verwesenlik. Hy het gister ondersteuners in die metro toegespreek as deel van die party se veldtog in aanloop tot die plaaslikeregeringsverkiesing in November. Helen Zille is die DA se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg. Hill-Lewis sê die metro se uitdagings word vererger deur ʼn gebrek aan politieke wil, ten spyte van sy enorme ekonomiese moontlikhede. Hy het klem gelê op Johannesburg se tekort aan water en elektrisiteit:
# Die Palestynse president Mahmoud Abbas sê Palestyne in Gaza was blootgestel aan dood, verwoesting, hongersnood, pogings tot ontheemding en ʼn volksmoord-oorlog, terwyl nedersettings in die Wesoewer toeneem. Hy het die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering via ʼn vooraf opgeneemde video toegespreek nadat sy afvaardiging vir die tweede agtereenvolgende jaar visums na Amerika geweier is. Hy sê die maatreëls is onregmatig. Abbas sê die Palestyne sal nie ontheemding aanvaar of enige iemand toelaat om namens hulle oor hul toekoms te besluit nie.
# Rugby: Die slot, Riley Norton, skrumskakels Andre Warner en Ezekiel Ngobeni, en haker Vernon Paulo draf in vanaand se openingswedstryd teen Connacht in Galway, Ierland, die eerste keer vir die Stormers uit. Dis die vleuel Leolin Zas, wat in 2016 die eerste keer vir die Stormers gespeel het, se 100ste wedstryd vir die klub. Hy is deel van ʼn ervare agterlyn saam met nog twee VRK-wenners, Seabelo Senatla en Warrick Gelant. Die direkteur van rugby, John Dobson, sê sy spelers sal alles moet uithaal om die veldtog met ʼn oorwinning te begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-568-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-286-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 103-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….