Nuus 09:00
BULLETIN 24 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa soek steun vir ‘n Internasionale Paneel oor Ongelykheid
# Fikile Mbalula glo die ANC het ‘n sterk saak teen die OVK in die Konstitusionele Hof
# En tennis: Carlos Alcaraz beskou Alexander Zverev tans as die beste speler ter wêreld
# President Cyril Ramaphosa sê daar is ‘n behoefte aan ‘n nuwe multilaterale front en die uitbreiding van ‘n wêreldwye koalisie teen ongelykheid. Hy het ‘n virtuele boodskap gelewer tydens ‘n hoëvlakgeleentheid van die Internasionale Paneel oor Ongelykheid, tydens die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York. Ramaphosa sê die besluit om die paneel te vestig, is een van die belangrikste uitkomste van Suid-Afrika se G20-presidensie verlede jaar. Hy het lidlande aangemoedig om ‘n resolusie vir die instelling van die paneel te ondersteun:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, glo die party het ‘n sterk saak teen die Verkiesingskommissie in die Konstitusionele Hof. Die party appelleer teen die Verkiesingshof se beslissing van verlede week, waarin daar ten gunste van die OVK beslis is om 181 raadslede te verhoed om aan die plaaslike verkiesing in November deel te neem. Die ANC het versuim om die kandidate vir ses munisipaliteite voor die sperdatum van 5nm op 28 Augustus in te dien. Mbalula sê die name is wel ingedien, maar die “in dien’-knoppie is nie gedruk nie:
# Die vakbondfederasie COSATU het skerp kritiek uitgespreek teen die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om die terugkoopkoers met 25 basispunte tot 7,25-persent te verhoog, en dit as uiters teleurstellend en ontydig bestempel. Die federasie voer aan die verhoging sal huislenings en ander skuld duurder maak vir werkers wat reeds swaarkry en met hoër brandstof-, vervoer- en elektrisiteitskoste te kampe het. Matthew Parks van COSATU sê die huidige skerp styging in inflasie word uitsluitlik deur die geo-politieke krisis aangedryf.
Die Standard Bank-ekonoom Elna Moolman sê intussen die Suid-Afrikaanse Reserwebank se rentekoersverhoging van 25 basispunte kan die laaste verhoging in die huidige rentekoerssiklus wees. Volgens Moolman was stygende brandstofpryse ‘n belangrike rede vir die verhoging, aangesien petrolpryse in September weer gestyg het en moontlik in Oktober verder sal styg. Moolman het bygevoeg daar is nog geen bewyse dat die hoër brandstofkoste breër inflasie veroorsaak nie, en verligting in rentekoerse kan dalk volgende jaar volg:
# Die Iranse president, Masoud Pezeshkian, het president Donald Trump se beskrywing van Iraniërs as “terroriste” verwerp en sê hulle is self “slagoffers van terrorisme”. In sy toespraak voor die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies in New York het hy verwys na die bomaanval op ‘n skool in Minab in Februarie, waarin 120 kinders en 26 onderwysers dood is. Die VSA het ontken dat burgerlikes doelbewus geteiken is en ondersoek die voorval. Pezeshkian sê Iran sal nooit voor Trump swig nie en beklemtoon hulle is gereed vir onderhandelinge, sonder die aanvaarding van geweldstaal.
# En tennis: Carlos Alcaraz beskou die Duitser Alexander Zverev tans as die beste speler ter wêreld. Albei is die naweek vir Span Europa in die Laver-beker in Londen in aksie. Die Spanjaard glo Zverev is ‘n kragtige wapen wat hulle teen die Wêreldspan kan inspan. Dit is Alcaraz se tweede toernooi sedert hy verlede maand na ‘n polsbesering teruggekeer en die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope gehaal het. Zverev het daardie toernooi gewen nadat hy in Junie ook die Franse Ope-titel ingepalm het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….