Nuus 08:00
BULLETIN 24 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank verwag inflasie sal teen die einde van 2027 tot drie-persent terugkeer
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake sê dit sal harde werk verg om ‘n ooreenkoms met Iran te bereik
# En die NSRI vier Erfenisdag met bykans ses dekades se reddingswerk
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank verwag dat inflasie teen laat volgende jaar na die teiken van drie-persent sal terugkeer, ondanks ‘n styging op die kort termyn wat deur hoër brandstofpryse aangedryf word. Volgens die bank bly voedselinflasie laag, terwyl wêreldkonflikte, oliepryse en ander voorsieningsprobleme steeds risiko’s inhou. Die president van die bank, Lesetja Kganyago, het aan die media gesê die bank bly gefokus op die verlaging van inflasie na sy teikenvlak en om die risiko’s weens wêreld-ekonomiese toestande te bestuur:
Die hoofekonoom van KPMG, Frank Blackmore, sê intussen die daling in kerninflasie tot 4,1-persent in Augustus is ‘n positiewe teken, nadat kerninflasie die afgelope maande toegeneem het. Blackmore sê egter die hoër olie- en brandstofpryse veroorsaak opwaartse druk op vervoerkoste, wat bydra tot algehele inflasie. Hy sê behuising en nutsdienste is steeds die grootste bydraers tot inflasie, terwyl vervoerkoste ook styg weens hoër oliepryse:
# Build One South Africa sê hy sal ‘n skoon en eerlike veldtog voer in die aanloop tot die plaaslikeregeringverkiesing op 4 November. BOSA neem in 24 munisipaliteite deel met 794 kandidate. Die partyleier Mmusi Maimane het tydens die ondertekening van die verkiesingsgedragskode gesê kiesers moet vry wees om die party te kies wat hul prioriteite die beste weerspieël, sonder om onder druk geplaas te word om vir ‘n groter party te stem.
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê ‘n ooreenkoms met Iran sal harde werk oor ‘n tydperk behels. President Donald Trump het gewaarsku dat hy voor die keuse is om Teheran te vernietig of ‘n ooreenkoms aan te gaan om die oorlog te beëindig. Afvaardigings van albei lande het Dinsdag in New York by die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies gesprekke met bemiddelaars gevoer. Rubio sê daar is ooreenstemming dat Iran ‘n skadelike mag in die Midde-Ooste is:
# Krieket: Die veteraan Protea-kolwer David Miller sê hulle gaan nie te ver vooruit kyk na volgende jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi in Suider-Afrika nie. Die Proteas speel vandag in Durban die eerste van drie eendagwedstryde teen Australië. Miller sê hoewel plekke in die Wêreldbeker-span in hul koppe sal wees, gaan hulle eerder daarop fokus om hul ou vyand vir die sesde agtereenvolgende keer in ‘n eendagreeks te klop. Miller sê die reeks is uiters belangrik om te verseker dat Suid-Afrika steeds wenkrieket speel.
# En ten slotte: Die Nasionale Seereddingsinstituut vier bykans 60 jaar van lewensredding op Suid-Afrika se waters, met vieringe wat saamval met Erfenisdag en Wêreldmaritieme-dag. Die NSRI is in 1967 gestig na 17 vissermanne in 1966 naby Stilbaai dood is, wat daartoe gelei het dat Patti Price, ‘n onderwyseres van Simonstad, haar vir ‘n seereddingsdiens begin beywer het. Die organisasie bedryf 43 reddingstasies in agt provinsies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….