Nuus 17:00
BULLETIN 23 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists and Citizens Forum sê aanklagte teen Shadrack Sibiya is ‘n terugslag vir die stryd teen geslagsgeweld
# Mosotho Moepya van die Verkiesingskommissie herinner partye om die Verkiesingskode te eerbiedig
# En, Pous Leo vra vir die beskerming van kindermigrante
# Die Activists and Citizens Forum sê aanklagte van aanranding, seksuele gereedmaking en verkragting teen die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, is uiters ernstig. Die woordvoerder Dennis Bloem sê howe moet geen genade betoon aan mense wat van verkragting beskuldig word nie. Hy sê die saak is ‘n terugslag vir die stryd teen geslagsgeweld. Bloem moedig ondersoekers aan om te sorg dat die saak nie ontspoor soos die saak teen pastoor Timothy Omotoso nie:
# Die voorsitter van die Verkiesingskommissie, Mosotho Moepya, sê die Verkiesingsgedragskode is noodsaaklik vir vrye en regverdige verkiesings. Hy het tydens die ondertekening-seremonie voor die plaaslike regeringsverkiesing van 4 November gesê dit bied aan 136-duisend-790 kandidate gelyke geleenthede om veldtogte te voer sonder intimidasie, geweld of onbillike verwringing. Moepya waarsku oortredings kan die verkiesingsproses ondermyn. Hy sê die ondertekening van die kode kan ook help om openbare vertroue in verkiesings te herstel:
# Die LUR vir Vervoer en Gemeenskapsveiligheid in Limpopo, Nakedi Kekana, vra padgebruikers om versigtig te wees, aangesien verkeersvolumes na verwagting vanaf môre tot Maandag in die skoolvakansie sal toeneem. Kekana se woordvoerder, Dali Tshifhiwa, sê die provinsie bied die St Engenas ZCC-pelgrimstog op Moria en die Phalaphala FM-koninklike erfenisfees in Vhembe aan. Hy sê verkeersbeamptes en die polisie sal ontplooi word om op te tree teen onder meer spoedoortredings, dronkbestuur, roekelose bestuur en oorlaaide voertuie:
# Pous Leo die Veertiende vra die wêreld om migrante- en vlugtelingkinders te beskerm teen geweld, uitbuiting en trauma. Die pous het vandag tydens sy weeklikse toespraak op Sint Pietersplein gesê kinders wat hul lande verlaat op soek na veiligheid, moet altyd beskerm en bygestaan word. Hy het dit bepleit in aanloop tot die Katolieke Kerk se Wêreldmigrante- en Vlugtelinge-dag Sondag. Leo het nie na spesifieke lande verwys nie, maar het in die verlede beter behandeling van migrante gevra en die Amerikaanse president, Donald Trump se immigrasiebeleid gekritiseer.
# Krieket: Die snelbouler Adam Milne is terug in Nieu-Seeland se T20-groep na ‘n afwesigheid van langer as ‘n jaar. Hy is ingesluit in die groep vir volgende maand se tuisreeks teen Indië. Die 34-jarige is beseer terwyl hy verlede jaar sy 56ste internasionale wedstryd gespeel het. Afrigter Rob Walter sê die opwindende jong veelsydige speler, Rachin Ravindra, gaan die T20-reeks weens ‘n besering misloop, maar kan reg wees vir die eendagreeks. Die toer begin op 22 Oktober en bestaan uit vyf T20s, vyf eendagwedstryde en twee toetse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-355-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-305-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 101-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….