Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens rugbynuus: Springbok-afrigter Rassie Erasmus erken hy het kanse gewaag met sy spankeuse vir Sondag se eenmalige toets teen Australië in Perth. Hy het 13 veranderinge aan sy beginspan gemaak, met slegs die slot Eben Etzebeth en die vleuel Ethan Hooker wat oorbly van die span wat die All Blacks 43-28 geklop het in Baltimore. Erasmus sê hy probeer die regte balans vind vir die Nasieskampioenskap en volgende jaar se Wêreldbekertoernooi:
Die agsteman Jasper Wiese speel Sondag sy 50ste toets vir Suid-Afrika nadat hy op die bank gekies is vir die kragmeting. Die 30-jarige het sy buiging in 2021 gemaak. Die veelsydige senter André Esterhuizen voer die span aan in Siya Kolisi se afwesigheid en word die 68ste Springbok-kaptein. Erasmus het slegs nege spelers behou van die groep wat die All Blacks verslaan het om Rugby’s Greatest Rivalry te wen. Afskop is Sondagoggend kwart voor 12, Suid-Afrikaanse tyd.
# Krieket: Die Protea-kolwer David Miller het sy verbintenis tot die nasionale span herbevestig, al is hy nie vir die 2026/27-seisoen gekontrakteer nie. Die 37-jarige is van Krieket Suid-Afrika se kontraklys verwyder nadat hy die afgelope jaar op ‘n tweeledige kontrak gespeel het wat bedoel is vir spelers wat in slegs een formaat speel of vir veteraanspelers. Miller sal môre teen Australië sy eerste eendagwedstryd vir Suid-Afrika speel sedert Maart verlede jaar. Sy doelwit is om gekies te word vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe.
# Swem: Suid-Afrika se viermalige Olimpiese medaljewenner, Tatjana Smith, sê haar terugkeer uit uittrede is gemik op voorbereiding vir 2028 se Spele in Los Angeles. Sy het ingeskryf vir die 50-, die 100- en die 200-meter borsslag op die Suid-Afrikaanse kortbad-kampioenskap in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal. Die 29-jarige Smith het uitgetree na 2024 se Spele in Parys, waar sy goud verower het in die 100-meter borsslag en silver in die 200. Die 50-meter-item word die eerste keer ingesluit in die Amerikaanse stad en Smith sê sy gaan daarop konsentreer.
# En laastens, tennis: Carlos Alcaraz gaan die naweek se Laverbeker-kompetisie vir Span Europa in Londen binne met ‘n loopbaanrekord van 19-2 teen die Wêreldspan. Die Spanjaard is onoorwonne teen Alex de Minaur en Francisco Cerundolo, terwyl hy met 5-1 teen Taylor Fritz voor is en 3-1 teen Ben Shelton. Hy het ook vir Alexander Bublik geklop in hul enigste ontmoeting, maar nog nooit teen Learner Tien gespeel nie. Alcaraz sê Span Europa is vasberade om die trofee te herower nadat hulle verlede jaar in San Francisco 15-9 teen die Wêreldspan verloor het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….