Nuus 12:00
BULLETIN 23 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie begin met ‘n reuse-soektog ná ‘n massaskietery in KwaMakhutha
# Amerika beplan om nog 17-duisend-500 vlugtelinge te verwelkom uit Suid-Afrika
# En rugby: Die Springbok-afrigter vat kanse met sy span vir die toets teen die Wallabies
# Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, het die KwaZulu-Natalse polisie opdrag gegee om met ‘n 72-uur-opsporingsoperasie te begin nadat elf mense in KwaMakhutha, Durban, doodgeskiet is. Drie mense is gewond toe gewapende aanvallers ‘n huis in die Ziko-gebied binnegegaan en losgebrand het. Woordvoerder Nonkululeko Phokane sê Dimpane is diep bekommerd oor die voorval, maar speurders volg ‘n belowende leidraad op, hoewel die motief vir die aanval nog onbekend is:
# Die taxi-eienaar Oupa ‘Bafana’ Sindane het die Hooggeregshof in Pretoria genader vir ‘n interdik om te verhoed dat hy vandag voor die Madlanga-kommissie moet verskyn. Hy wil ook hê die hof moet die kommissie verbied om selfoon-inligting te gebruik waarop beslag gelê is as deel van sy hangende saak oor geldwassery en afpersing van twee-miljoen-rand. Sindane voer aan die selfoon-inligting is onwettig bekom en sal sy regte benadeel. Hy ontken ten sterkste dat hy bande het met korrupte polisielede of sluipmoordenaars gehuur het.
# Die Gesondheidsdepartement het vier bykomende gevallle van A-pokke bevestig, wat die totaal tot 22 neem. Een van die gevalle is ‘n 47-jarige Kaapstadse man wat onlangs na Spanje gereis het en voorheen as ‘n waarskynlike geval beskou is. ‘n Duitser en ‘n Noorweër het met die besmetting in Suid-Afrika aangekom. Woordvoerder Foster Mohale sê 18 van die 22 bevestigde gevalle is in die Wes-Kaap, drie in Gauteng en een in KwaZulu-Natal:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump se administrasie beplan om die volgende 12 maande nog 17-duisend-500 vlugtelinge, veral Afrikaners uit Suid-Afrika, in Amerika te verwelkom. Trump het herhaaldelik gesê Afrikaners word vervolg weens hulle ras, maar die Suid-Afrikaanse regering ontken dit. Hierdie hervestigingspoging sal die Amerikaanse regering sowat 8,11-miljard-rand kos. Amerika se Departement van Buitelandse Sake het aan die Kongres gesê hy verwag dat Afrikaners ten volle by Amerika sal integreer op ʼn wyse wat belastingbetalers-hulpbronne vir Amerikaanse burgers sal bewaar.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus erken hy het kanse gewaag met sy spankeuse vir Sondag se eenmalige toets teen Australië in Perth. Hy het 13 veranderinge aan sy beginspan gemaak, met slegs die slot Eben Etzebeth en die vleuel Ethan Hooker wat oorbly van die span wat die All Blacks 43-28 geklop het in Baltimore. Erasmus sê hy probeer die regte balans vind vir die Nasieskampioenskap en volgende jaar se Wêreldbekertoernooi:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 21-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-229-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-319-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….