Nuus 11:00
BULLETIN 23 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Elf mense sterf in ‘n massa-skietvoorval in KwaMakhutha, Durban
# Amerika beplan om nog 17-duisend-500 vlugtelinge uit Suid-Afrika te verwelkom
# En rugby: Die Springbok-afrigter vat kanse met die span vir die toets teen die Wallabies
# Elf mense, insluitend ‘n swanger vrou, is gisteraand dood en drie beseer in ʼn massa-skietvoorval in die KwaMakhutha-township in Durban. Volgens berigte was die slagoffers saam in ʼn huis in die Ziko-gebied toe onbekende aanvallers ingestorm en op hulle losgebrand het. Die oorledenes was in hul middel-30’s. Die aanvallers het ook een van die slagoffers se motor aan die brand gesteek. Polisiewoordvoerder Robert Netshiunda sê hulle het ’n soektog na drie verdagtes begin:
# President Donald Trump se administrasie beplan om oor die volgende 12 maande nog 17-duisend-500 vlugtelinge, veral Afrikaners uit Suid-Afrika, in Amerika te verwelkom. Trump het herhaaldelik gesê Afrikaners word vervolg weens hulle ras, maar die Suid-Afrikaanse regering ontken dit. Hierdie hervestigingspoging sal die Amerikaanse regering sowat 8,11-miljard-rand kos. Amerika se Departement van Buitelandse Sake het aan die Kongres gesê hy verwag dat Afrikaners ten volle by Amerika sal integreer op ʼn wyse wat belastingbetalers-hulpbronne vir Amerikaanse burgers sal bewaar.
Die vakverbond SAFTU is intussen bekommerd oor Amerika se toenemende dreigemente teen Suid-Afrika ná die regering se reaksie op Washington se sogenaamde “vyf versoeke”. Amerika het in Junie verlede jaar optrede geëis oor geweld teen boere; die “Kill the Boer”-dreunsang; onteiening sonder vergoeding; aspekte van swart ekonomiese bemagtiging; en die land se standpunt oor buitelandse beleid. SAFTU se woordvoerder, Asive Dyani, sê hulle verwerp die gebruik van ekonomiese, diplomatieke of geopolitieke mag om Suid-Afrikaanse beleid voor te skryf:
# Politieke partye en onafhanklike kandidate wat aan die plaaslike regeringsverkiesing in November deelneem, gaan vandag die gedragskode in Midrand, Gauteng, onderteken. Hulle sal hul toewyding bevestig om die Verkiesingsgedragskode na te kom en die nuwe kode oor die bekamping van waninligting te ondersteun. Die kode sit die gedragstandaarde tydens die verkiesingstydperk uiteen, met gevolge soos deur die wet bepaal indien dit oortree word. Volgens die Verkiesingskommissie is 136-duisend-790 kandidate gesertifiseer om mee te ding om tien-duisend-526 raadsetels.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus erken hy het kanse gewaag met sy spankeuse vir Sondag se eenmalige toets teen Australië in Perth. Hy het 13 veranderinge aan sy beginspan gemaak, met slegs die slot Eben Etzebeth en die vleuel Ethan Hooker wat oorbly van die span wat die All Blacks 43-28 geklop het in Baltimore. Erasmus sê hy probeer die regte balans vind vir die Nasieskampioenskap en volgende jaar se Wêreldbekertoernooi:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 21-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-378-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-329-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….