Nuus 08:00
BULLETIN 23 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Colombia onttrek sy steun vir Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel
# Druk verkeer word vanaf vandag verwag op die N3-tolroete
# En Zelensky herhaal dat hy gereed is vir ‘n ontmoeting met Putin
# Colombia het sy ondersteuning vir Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel by die Internasionale Geregshof in Den Haag onttrek. Suid-Afrika het die saak in Desember 2023 teen Israel aanhangig gemaak en voer aan die land oortree die Volksmoord-konvensie se reëls wat die Palestyne in Gaza betref. Israel verwerp die bewerings en ontken sy optrede in Gaza kom neer op volksmoord. Die onttrekking kom terwyl Colombia se nuwe president, Abelardo de la Espriella, probeer om diplomatieke en ekonomiese betrekkinge met Israel te herstel.
# Die DA sê die geskorste adjunk- nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, moet afgedank word indien hy skuldig bevind word aan die ernstige aanklagte van seksuele oortredings teen hom. Hy staan tereg op vyf aanklagte, waaronder verkragting, twee aanklagte van seksuele gereedmaking, die aanmoediging van seksuele gereedmaking van ‘n kind, en mensehandel. Lisa Schickerling van die DA sê die polisiediens se geloofwaardigheid rondom die beskerming van vroue en kinders is in gedrang, tensy daar beslissend opgetree word wanneer ernstige bewerings teen ‘n senior offisier gemaak word:
# Padgebruikers op die N3-tolroete word aangeraai om in die komende dae te beplan, ekstra tyd vir hul reis toe te laat, en geduldig en hoflik te bly. Verkeersvolumes sal na verwagting van vandag af toeneem wanneer vakansiegangers vir die Erfenisdag-langnaweek en die begin van die skoolvakansie tussen Gauteng, Mpumalanga, die Vrystaat en KwaZulu-Natal reis. ‘n Woordvoerder van die N3-tolkonsessie, Thania Dhooga, sê motoriste moet padwerk-verleggings op dele van die N3-tolroete verwag:
# Oekraïne se president Volodymyr Zelensky sê hy het ʼn positiewe en produktiewe vergadering met president Donald Trump gehad en albei lande wil hê die oorlog van vier jaar teen Rusland moet beëindig word. Die leiers het by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York gesprek gevoer. Hulle het die produksie van die Patriot-missiel in Kiëf, moontlike afskaling, en ander bilaterale en multilaterale kwessies bespreek. Zelensky het herhaal dat hy gereed is om die Russiese president, Vladimir Putin, by ʼn vergadering saam met Trump te ontmoet:
# Tennis: Die Wimbledon-kampioen, Linda Noskova, het die Tsjeggiese Republiek na die halfeindronde van die Billie Jean King-beker in Shenzhen, China, gelei. Sy het die Brit, Katie Boulter, geklop terwyl Marie Bouzkova naelskraaps met Sonay Kartal afgereken het en die Tsjeg ʼn 2-0-sege verseker het. Die Tsjegge streef na ʼn sewende oorwinning in die kompetisie sedert 2011. Die kwarteindronde hervat vandag met Spanje wat Kazakstan takel, Oekraïne en België wat sake uitspook, en die verdedigende kampioene, Italië, wat teen China te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-51-sent teen die euro en 21-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-660-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-339-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 99-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….