Nuus 07:00
BULLETIN 23 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika dring aan op groter Afrika-verteenwoordiging in die VN-Veiligheidsraad
# Die portefeuljekomitee oor Polisie is bekommerd oor die aanklagte teen Sibiya
# En swem: Tatjana Smith keer terug met die oog op deelname in Los Angeles in 2028
# Suid-Afrika se permanente verteenwoordiger by die Verenigde Nasies, ambassadeur Mxolisi Sizo Nkosi, sê die land dring aan op groter Afrika-verteenwoordiging op die VN-veiligheidsraad. Die raad bestaan uit vyf permanente lede en tien tydelike lede wat vir twee jaar verkies word. Afrika het tans verteenwoordiging onder die raad se verkose lede, maar geen permanente setel nie. Nkosi sê Afrika se saak vir permanente verteenwoordiging is gebaseer op die vasteland se demografiese, ekonomiese en geopolitieke belangrikheid, asook sy regstreekse belang by vrae oor internasionale vrede en veiligheid.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie het kommer uitgespreek oor aanklagte teen die geskorste nasionale adjunk-polisiekommissaris, Shadrack Sibiya. Hy staar vyf aanklagte in die gesig, insluitend verkragting, mensehandel, bevordering van die seksuele gereedmaking van ‘n kind, en twee van seksuele gereedmaking van ʼn kind. Sibiya word beskuldig dat hy ʼn 16-jarige meisie seksueel gereedgemaak en ʼn 18-jarige vrou verkrag het. Die komiteevoorsitter, Ian Cameron, het aan Newzroom Afrika gesê die gereg moet sy gang gaan:
# Die GOOD-party sê narratiewe van vervolging van witmense kan rasseverdeling verdiep en populistiese politieke partye versterk. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron, sê sulke retoriek ondermyn Suid-Afrika se ná-apartheidooreenkoms en sy verbintenis om rassisme te verwerp. Hy het bygevoeg minderheidsgroepe moet nie geteiken word nie, aangesien Suid-Afrika se demokratiese oorgang wraak teen die wit bevolking vermy het. Herron doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om identiteitspolitiek te verwerp en gelyke geregtigheid, ubuntu en universele menswaardigheid te ondersteun:
# Die Wes-Kaapse regering het die minister van Landbou, Willie Aucamp, se voorstel verwelkom dat maatskappye in die privaat sektor toegang kry tot die Landbounavorsingsraad se intellektuele eiendom oor entstof teen bek-en-klouseer. Die navorsingsraad se entstof is baie doeltreffend teen die plaaslike bek-en-klouseer-stamme, maar weens vervaardigingsbeperkings kan die raad tans nie genoeg vervaardig nie. Die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê hierdie voorstel erken dat die stryd teen bek-en-klouseer deur die hele sektor hanteer moet word:
# Brasilië se president, Luiz Inácio Lula da Silva, sê sy land sal nie plaaslike of buitelandse inmenging toelaat by wat hy die mense se demokratiese keuse noem nie. Dit kom te midde van toenemende bewerings van buitelandse inmenging by die land se verkiesing in Oktober, waar Lula da Silva sal probeer om ʼn vierde, nie-agtereenvolgende termyn as president verkies te word. Die Brasiliaanse leier het die VN se Nasionale Vergadering in New York toegespreek. Hy sê doeltreffender diplomasie is die enigste manier waarop kollektiewe probleme, insluitend konflikte, suksesvol hanteer kan word.
# Swem: Suid-Afrika se viermalige Olimpiese medaljewenner, Tatjana Smith, sê haar terugkeer uit uittrede is gemik op voorbereiding vir 2028 se Spele in Los Angeles. Sy het ingeskryf vir die 50-, 100- en 200-meter borsslag by die Suid-Afrikaanse kortbad-kampioenskap in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal. Die 29-jarige Smith het uitgetree na 2024 se Spele in Parys, waar sy goud verower het in die 100-meter borsslag en silwer in die 200. Die 50-meter-item word die eerste keer ingesluit in die Amerikaanse stad en Smith sê sy gaan daarop konsentreer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-51-sent teen die euro en 21-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-266-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-344-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 99-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….