Nuus 15:00
BULLETIN 22 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die geskorste nasionale polisiekommissaris Masemola beskryf die afgelope maande as moeilik en uitdagend
# Die Moriel-infrastruktuurgroep dank sy voorsitter af ná ‘n omstrede video
# En rugby: Die Leeus sê bestendigheid sal die sleutel wees tot hulle sukses dié seisoen
# Die geskorste nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, is gretig om terug te keer werk toe nadat die Pretoriase Landdroshof die aanklagte teen hom teruggetrek het. Dit het verband gehou met ‘n polisie-tender van 360-miljoen-rand aan die beweerde misdaadbaas Vusimuzi “Cat” Matlala. Masemola beskryf die afgelope maande as moeilik en uitdagend en sê dit het hom belangrike lesse geleer. Hy sê mense moet aanspreeklik gehou en die beginsel van mag-skeiding gehandhaaf word:
# Die Moriel-infrastruktuurgroep het sy uitvoerende voorsitter, Lawrence Mudzinganyama, afgedank oor ‘n video waarin hy na bewering vroue in ‘n restaurant in Sandton, Johannesburg dreig. Die luukse-landgoed Steyn City het ook sy huurooreenkoms met Mudzinganyama beëindig. Hy het gedreig om die vroue te vermoor nadat hulle sy toenaderings verwerp het. Moriel sê dit strook nie met die onderneming se waardes nie en hy veroordeel dreigemente, geweld en intimidasie teen vroue ten sterkste. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap ondersoek intussen sy onderneming se betrokkenheid by twee infrastruktuurkontrakte op die N1 en N2.
# Die Departement van Basiese Onderwys se direkteur-generaal, Mathanzima Mweli, sê sy kommer oor die leefstyloudit-proses moenie beskou word as ‘n weiering om hom aan wettige ondersoeke te onderwerp nie. Hy sê hy is bekommerd oor die manier waarop die oudit uitgevoer word, insluitend die hantering van vertroulike en persoonlike inligting. Mweli sê leefstyloudits gebruik sensitiewe persoonlike en finansiële inligting en moet voldoen aan die toepaslike Staatsdiensraamwerk wat vertroulikheid, regverdigheid, onafhanklikheid en professionaliteit insluit. Hy sê hy ondersteun leefstyloudits en is bereid om een te ondergaan.
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Leerder het buite ‘n hoërskool in die weste van Turkye losgebrand en minstens agt kinders gewond. Volgens die uitsaaier NTV was die skietery naby ‘n beroeps- en tegniese skool in Turgutlu in die provinsie Manisa. Die goewerneur se kantoor sê veiligheidsmagte het die vermeende aanvaller in hegtenis geneem. Twee van die gewondes is volgens berigte in ‘n bedenklike toestand. Geen motief is tans bekend nie. Die voorval volg op twee dodelike skietvoorvalle by Turkse skole vroeër vanjaar, wat gelei het tot strenger veiligheidsmaatreëls by skole.
# Rugby: Die Leeus se hoofafrigter, Ivan van Rooyen, sê hulle wil voortbou op verlede seisoen toe hulle die kwarteindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap gehaal het. Hy het ‘n groep van 60 aangewys vir die VRK – en Kampioenebeker-veldtog, insluitend die Springbokke Ruan Venter, Sikhumbuzo Notshe en Morné van den Berg. Van Rooyen sê hulle is na ‘n goeie voorseisoen gereed om Saterdag hul VRK-veldtog af te skop teen die verdedigende kampioen, Leinster:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-981-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-317-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….